Kameraad Langeraat

Op pad rivier toe laat ‘n kameelperd ons een middag groot skrik. Ons kry op buurman Hennie van Tonder se werf (erf 153 op die hoek van Wildevy- en Apiesdoringlane) ‘n donker bul – klaarblyklik dus ‘n senior burger -- wat wild sy nek rondruk en -pluk. ‘n Blekerige iets hang by die hoek van sy mond uit. ‘n Slang dalk? ‘n Stok wat in sy tande vassit? Ons raak al hoe meer oortuig: die dier is in groot moeilikheid -- dis ‘n saak vir ‘n dierearts. Terwyl ons bekommerd dophou, spoeg die bul egter die vreemde ding uit dat dit doer trek en tel dit dadelik weer met sy tande op. Maar net ‘n spierwit rooibokskedel, horings en al, waaraan hy (gesondheidsbewus) staan en smul. Goed vir die beenstruktuur!

Om ‘n kameelperd te dokter, moet vir medici nogal ‘n uitdaging wees. Dink maar aan die potensiële komplikasies met ‘n seer keel! Tydens ‘n besoek aan Skotland is daar oorkant die water egter veel meer as ‘n kameelperd se seer keel gedokter. In ‘n baanbrekeroperasie is ‘n inwoner van ‘n dieretuin se gebreekte kaak met draad geheg. Dit het haar van verhongering gered. Diereartse van Skukuza moes ook al medisynetassie in die hand Sabiepark toe afsit om kameelperd-pasiënte te hulp te snel nadat gewetenlose stropers toegeslaan het. In 1996 is ‘n koei se hakskeensening deur ‘n strik afgeruk. In April 2003 het ‘n kameelperdbul ‘n strik om een van sy agterbene opgedoen.

Ongelukkig is nie stap vir stap opgeteken hoe die dokter te werk gegaan het om daardie koei se sening in 1996 te las en hoe geslaag die ortopediese prosedure was nie. Hopelik was sy gelukkiger as haar kalfie van sowat twee weke. Dié is terwyl sy ma op die krukkelys was, so erg deur die groot bul gekarnuffel dat hy vankant gemaak moes word. In die insident van sewe jaar later was die strik aan die bul se agterbeen gelukkig losserig. Hy is net lig verdoof en die draad verwyder. Met die hulp van ‘n hele klomp gewillige hande was die yslike dier spoedig terug op sy pote.

‘n Spesiale Sabiepark-vreugde is om in die oggend wakker te word en deur die kamervenster ‘n string lang nekke tussen jou bome te sien uittoring. Een opstaantyd op Tarlehoet was ‘n klein kameelperdjie saam met die ou groot bul voor die huis. Waarlik 'n odd couple. Die kleintjie was vol streke. Hy het al om die ou groot bul getrippel en hom speel-speel bly stamp. Die patriarg het hom maar geduldig die jeugdige vrypostigheid laat welgeval. ‘n Mooi foto is op ‘n skinkbord aangebied deur twee kameelperde wat met hul leeragtige lippe ‘n knoppiesdoring vlakby die voorstoep se blare afstroop. Een knak sy nek amper dubbel en loer ‘n hele rukkie vir Tokkie wat by die tafel sit en oggendkoffie drink. My liewe vrou gryp die naaste kamera en neem, volgens haar, 'n spogfoto: die kameelperd se kop en nek netjies omraam deur die stoep-opening. Toe moet sy hoor daardie kamera is sonder film!

‘n Kameelperd se kop het ‘n eienaardige vorm. Soos dié van ‘n kameel. Dit is waarvan die kameel-deel van sy naam kom. Vergelyk gerus daardie verlangse familielid se voorkoms ten opsigte van kop en gesig. En die perd-deel? Lank was ek onder die wanindruk dit het iets met sy hoewe te doen. In my 64ste jaar kom ek toe in ‘n klassieke Wildtuinboek uit die jare toet die ouderwetse Engelse woord “camelopard” teë. Camelopard? In ‘n verklarende woordeboek ontdek ek die vreemde woord kom uit Middeleeuse Latyn (camelopardus) en Grieks (camelopardalis). Van kamelos kom die “camel” of “kameel” en van pardalis die “perd”. Maar dit is letterlik ‘n perd van ‘n ander kleur, want pardalis is totaal en absoluut onverwant aan perd. Dis luiperd se kind! “The giraffe was thought to have a head like a camel’s and spots like a leopard’s,” aldus die Collins English Dictionary. Dit maak sin, nie waar nie?

Ewenwel, een middag kom ‘n groepie van hierdie “luiperd-kamele” stadig nader huis toe, onder hulle ‘n kleintjie waaraan sy naelstring nog hang. Terselfdertyd daag ‘n trop bobbejane op. Tokkie verdryf die sekelsterte met krete en 'n stormloop wat in iets soos die All Blacks se haka eindig. Die vreemde gedrag laat die kameelperde effens huiwer. Toe loop hulle liefs 'n wye draai om die huis in die rigting van die Van Tonders. Maar nog binne trefafstand kry die kleintjie lus vir melk. Die lang lens is dadelik ter hand. Die rosyntjiebosse wat die uitsig versper, belemmer egter ook die outomatiese fokus.

Op my kerfstok is egter darem nie net misoeste nie. Mooi foto’s bestaan wel van ‘n kameelperdmaal aan die groen nuwe blaartjies van die pendoring teenaan ons voorstoep. Ook van twee kleintjies by die Tarlehoet-naambord, ‘n nuuskierige ou wat amper oor my skouer loer by my braaiplek, en ‘n nog nuuskieriger een wat by die kombuisvenster betrap is. Hy rek sy nek, skroef sy kop dwars om beter in die huis te kan sien en staan met gespitste ore, seker oor ‘n huishoudelike geluid wat hy nie kon kleinkry nie.

Sabiepark se kameelperdbevolking het van 1998 af dramaties afgeneem. Dertien is daardie jaar uit ekologiese oorwegings verkoop, nie weens te min kos vir hulle nie, wel oor die skade wat hul hoewe aan die sensitiewe grasveld aanrig. Ja, kameelperde trap diep spore! Groot bulle het ook maar min genade met ‘n jong boom. Hulle stap goedsmoeds bo-oor. Terwyl die 13 verkooptes met helikopters afgekeer is, het nog ‘n tienstuks raaiselagtig verdwyn. Dat hulle verward oor die Sabierivier Wildtuin toe is, is een teorie. In 2000 volg verdere rampspoed. Luiperds vang twee kameelperde. Leeus vang nog een. ‘n Ou bul trap deur die brose dak van ‘n septiese tenk. Hy sit lank hulpeloos daarin vas. Die hulpelose dier is ‘n wrede, eensame dood tegemoet. Later het die krokodille uit die rivier gekom en die karkas kaalgevreet.

Met die kwynende getalle swaar op die gemoed kry ons op 30 Desember 2002 ‘n vonkpos-boodskap uit Sabiepark -- een wat tegelyk die bron is van jaloesie en blydskap. Hier is Mariza se boodskap: “Ons is getuies dat die volgende kameelperdbaba op Tarlehoet verwek is! Wat ‘n skouspel! Hoop J (Johan) het goeie foto’s.” (J het wel, maar toe dinge gebeur, moes hy glo maar vinnig skiet!)

Natuurlik was ons bitterlik jaloers. Ek en Tokkie het tevore ook al gesien hoe twee kameelperdvryers in hul tydsame liefdespel ‘n soort outydse minuet al om mekaar, al om mekaar, dans. Maar telkens het hulle dan beskroomd geraak. Terwyl ons ons nekke rek, verdwyn hulle in die bosse vir die voltrekking van die daad self. En hoe skouspelagtig daardie moeitevolle voltrekking moet wees, kan ons raai.

Elkeen wat al by ‘n watergat gesien het watter operasie dit vir ‘n kameelperd is net om water te drink, sal weet wat ek bedoel. Want selfs daardie eenvoudige takie is geen kinderspeletjies nie. Eers word die voorbene wyd uitmekaar geplant. Dan word die lang lyf geknak en geknoop tot die mond en water mekaar ontmoet. Pure kontorsionis. Einde ten laaste word die water behaaglik deur hul lang “koeldrankstrooitjies” opgesuig.

Ongetwyfeld het die vonkpos ook ons harte warmer laat klop. Kameelperdbabas is dubbel welkom in Sabiepark. Hoe meer (kameelperd-)siele, hoe meer vreugde. En dalk is dit ons beurt om die bevalling te aanskou. Volgens die rapporte van gelukkiger Sabieparkers is dit nou éérs ‘n skouspel. As die kleinding die twee meter na benede die lewe binneval, lok dit klaar waarderende applous uit. As die kleinding, skoon duiselig van die ver val, na ‘n lang gesukkel wankelrig op die been kom, juig die toeskouers eers.

Daardie val kon natuurlik nog verder as twee meter gewees het – met harsingskudding dalk die nuweling se voorland -- as die ma nie so met perfekte tydsberekening haar agterbene presies op die kritieke oomblik sou knak nie.