Kameraad Langeraat
Terwyl ons die Sondagmiddag by Loeriebos op die herverskyning van die halsstarrige leeus wag, stap twee volwasse kameelperde stadig, doelgerig na die toneel van die vangs. Is dit dalk die pa en ma van die jong langnek-slagoffertjie in 'n finale vaarwel?
Die hemelbesems vertoef 'n rukkie in doodse stilte by die hartverskeurende hopie
beendere en stukkies vel wat oorgebly het nadat die daglange leeufees verby was.
Dan is dit of hulle hul van die plek losskeur. Afgemete stap die twee die bos
in. Verder en verder weg. Nekke orent soos altyd. Koppe hoog. Hulle kyk nie weer
om nie. Hul skynbare pyn ruk jou aan die hart. Dalk romantiseer jy die
toneeltjie wat jy voor jou sien afspeel, troos jy jouself. Dalk is die twee
onverwant aan die slagoffer, of selfs onbewus van sy lot. ‘n Somber gevoel pak
jou nietemin beet. ‘n Bewoënheid wat hom nie so maklik laat wegdink nie. Dit
roer jou soos dood in die huis van goeie vriende.
Party mense soek met ‘n passie net die Vyf Grotes. Tokkie spreek egter die wyse woord dat ruimte ook bestaan vir die vyf wat vreugde bring. Uit ‘n Sabiepark-hoek sou dit, volgens haar, beteken die vyf gunstelingbesoekers aan jou werf -- diere met ‘n “teenwoordigheid” vir wie jy graag wil sê jy’s bly dat hulle langs gekom het. Sy gaan sit toe en skryf haar “Vreugdevyf” neer. Van Langeraat, die kameelperd, tot Fielafooi, die nagapie. Tussen die ou grote en die heel kleintjie lê die sebra, vlakvark en duikertjie. Aan ‘n persoonlike voorkeur wil sy haar nie besondig nie.
Daardie ongretigheid verstaan ek goed. Dis swaar om te kies. Vir my is drie kandidate nek aan nek bo-aan die lys. Dit is die kameelperd, duikertjie en nagapie. Vlakvark en sebra loop ‘n kortkop agter. Teenoor die koedoe voel ek skuldig dat ons nie vir hom ‘n plek in ons vyf vind nie. Wat ‘n selfversekerde bok met persoonlikheid en ‘n statige houding! Wat hom net-net diskwalifiseer, is sy afsydigheid. ‘n Koedoe is so ietwat van ‘n diknek. Hy handhaaf gewoonlik ‘n diskrete afstand en wek nie juis die indruk dat ‘n hartliker persoonlike verhouding verwelkom sal word nie.
In ‘n fisieke sin troon die kameelperd natuurlik kop en skouers bo die vier ander op Tokkie se lysie uit. Ook bo al die ander diere van die veld. Trouens, was grootte die maatstaf, en toeriste die beoordelaars, was hy waarskynlik loshande een van die Vyf Grotes. Maar nou is dit mos die trofeejagters wat -- reg of verkeerd -- in dié diepgewortelde klassifikasie die deurslag gee. Vir hulle tel net een faktor: die moeilikheidsgraad om die diere in die jagveld plat te trek. Op daardie terrein figureer die vreedsame dier nie.
Dat ‘n mens vir die kameelperd met sy indrukwekkende gestalte soveel deernis koester, kan vir ‘n oningewyde vreemd opval. Waarom dan? Die oorheersende rede moet wees dat hy so mensvriendelik is. Waar en wanneer jy een in Sabiepark raakloop, straal hy altyd ‘n warme welwillendheid uit. Sy gesindheid is duidelik: “Ek stel in jou, vreemde tweebeen-wese, en in jou doen en late belang.” Dit laat enige mens, ongeag jou gemoedstoestand, sommer goed voel. Kameelperde is ware aristokrate van die veld. Kom jy skielik op een af, bly hy kalm staan en kyk as ‘t ware eers die kat uit die boom. Hy betrag jou nuuskierig; kies nie sommer holderstebolder koers soos die deursnee-bosbewoner nie. Ook daardie ongestoordheid kruip in jou hart. Jy besef dis bloubloed dié wat gelykmatig en waardig hul gang gaan. Hulle verdien om met respek bejeën te word.
En o, daardie sielvolle kyke onder die lang wimpers deur. Dit sorg vir lang en innige oogkontak. Spontaan ontstaan die vermoede dan: maar die goedige ou reus het seker iets op die hart. Jy wens jy kon kameelperd-taal praat. Julle sou sekerlik land en sand kon gesels. ‘n Alternatiewe manier sou wees om boodskappies met ‘n takkie in die gruis uit te krap -- as kameraad Langeraat maar net geleer het om te lees en te skryf. ‘n Vinnige b-possie (bos-possie) in die pad sou kon lui: “Liewe ou Langeraat, buig ‘n bietjie jou nek, man, dat ons kan praat.”
Vir Sabiepark se kameelperde moet ‘n mens buitengewone simpatie hê. As hulle oorgerus is, is dit immers nie onverstaanbaar nie. Bedink die ontnugtering om met so ‘n intimiderende lyf deur ‘n veel kleiner japsnoet onverhoeds betrap te word in so ‘n relatief veilige hawe. Trouens, dis ‘n plek waar ‘n kameelperd só onbedreig voel dat hy enige tyd van die dag of nag sy lang stelte onder hom invou en gaan sit. Hy sak af aarde toe in fases; nogal ‘n ingewikkelde en moeisame prosedure wat ek hier die eerste keer gesien en gefotografeer het.
Stomme bosgenote. Jy voel as ‘t ware aandadig, of jy hulle op ‘n manier in die steek gelaat het, as hul vertroue van tyd tot tyd wel geskok word deur roofdiere wat met bose bedoelinge van buite insluip en hulle in hul eie domein kom vang. Soos in die leeu-beleg van Julie/Augustus 1999. “Ek hoop tog net nie ons klein kameelperdjie het ook leeukos geword nie.” So het ek kort na ons wintervakansie van daardie jaar bekommerd uit Melkbos vir Handa Zeller gefaks. Voor my was ‘n treffende foto wat Tokkie ‘n paar weke tevore van die skatlike klein knopknie-kêreltjie geneem het (met sy dun titteltjie van ‘n naelstring wat nog onder hom hang). My kommer was nie uit die lug gegryp nie. Ek het geweet die leeus was nog in die park. En dat hulle kliphard besig was om fees te vier onder die sagte teikens van ons “mak” wild. Vriende het my op die hoogte gehou. “Dit is altyd die jonger, swakker diere wat eerste aangeval word,” het Handa laat weet. “Ek is bevrees die klein kameelperdjie was een van die slagoffers.”
Twee jong kameelperdjies in ‘n maand opgevreet! Die nuus het loodswaar op die hart kom lê. Dat een koedoe, ses wildebeeste, twee sebravullens (een met bruin donshaartjies op die kruis daarmee heen nog voordat die film ontwikkel is waarop Tokkie haar kort tevore verewig het), en talryke rooibokkies ook deur die onstuitbare leeutrop opgevreet is, was eweneens verskriklik. Hul lot het egter nie heeltemal dieselfde impak gehad nie. Waarom nie? Omdat die ander slagoffers deel van die massa is, meen ek. Grotendeels identiteitloos. Maar die kameelperdjies ken jy as ’t ware by die naam.
Daarom dat elke besoek met ‘n vaste ritueel begin. Jy ry op en af in Sabiepark totdat jy op hulle afkom. As jy hulle nie dadelik kry nie, is jy dwalend van bekommernis. As jy hulle wel opspoor, meet jy opgewonde met jou oog hoe hulle sedert die vorige siens gegroei het. Gewoonlik het hulle soos boontjieranke opgeskiet. Dié dat ons ‘n vergroting van daardie ongelukkige klein kameelperdjie laat maak het. Dit hang nou in ons boshuis met die woord “Leeukos” in groot swart letters daarop geskryf.
Vervolg ...


