Hoekie van die hemel

As jy een is wat gedurig met 'n Roberts- of Newmanvoëlgids in die hand loop, kan jy hoop om by iets soos 100 verskillende soorte op een dag regmerkies te maak; van grotes soos ooievaars, arende en aasvoëls tot kleintjies soos rooibek-kweleas wat in reuse-swerms die lug verdonker. Selfs die uiters seldsame bosloerie (narina trogon) wat gewoonlik net in digte woude voorkom, flits van tyd tot tyd hier van tak tot tak. Steven James van Hogwarts (erf 270 uit Wildevylaan), 'n eienaar uit Dubai, spog met die rekord van 146 spesies op ‘n dag, maar dink hy kan beter. Sy visier is op 165 plus. 'n Voëlkenner hoef jy egter nie te wees nie om deur die melankoliese roep van die visarend of die sang van die grootringduif betower te word, of om agter sy kok-kok-kok aan die bloukuifloerie in sy vlug te probeer volg. En 'n werfbesoek van 'n klomp tarentale of 'n gesinnetjie bospatrysies is altyd 'n kado'tjie.

As Piet van Wyk se Veldgids tot die Bome van die Nasionale Krugerwildtuin jou gereelde metgesel is, kan jy jou aan die boomweelde verlustig. Jy kom gou agter knoppiesdoring (ons erf se "nasionale" boom) is kameelperde se gunsteling ondanks die kwaai, harde haakdorings. Jy leer om te onderskei tussen die wit rosyntjie, vaal rosyntjie en reuse-rosyntjie, tussen ‘n jong rooiboswilg en 'n kierieklapper, tussen raasblaar en dopperkiaat of tussen Transvaalse katjiepiering en Laeveldse melkbessie. Jy leer ken die reuk van aartappelbos (pure gebakte aartappel!), sekelbos (bekend as die Bosveld se Kersboom weens sy pers en geel “lanterns”) en rooibos laatmiddag, of snuifkalbassie in die oggend. Jy ontdek met vreugde swartklapper, sterkastaiing, rusperboontjie, sebrahout en sambokpeul op jou eie werf. Ja-nee, dis boomwêreld sonder weerga hierdie. Om my huis het ek al feitlik net soveel geïdentifiseer en genommer as die Britse eilande se somtotaal van 35 boomsoorte. Ook die Bosveld-“strate” het -- hoe dan anders? -- almal boomname. Ons woon in Wildevy. Ons ry via Apiesdoring na Maroela, wat Sabiepark se “hoofstraat” is. Dan kry jy Gwarriebos, Appelblaar, Knoppiesddoring, Kiaat, Boerboon, Jakkalsbessie, Rooibos, Worsboom en Tambotie.

Die hart van Sabiepark is die piekniekplek. Sabieparkers noem dit sommer net “die rivier” -- hul rivier. “Kry jou by die rivier.” Dit is soos ‘n straatadres. Die piekniekplek het ‘n grasdak-hek. Buite is die natuurlike bos; binne 'n immergroen, sprankelende kuierplek, somer of winter. Hier plons seekoeie voor jou in die blink water, steek 'n trop avontuurlike grootvoete dalk die rivier oor op soek na groener weivelde, of kom 'n verskeidenheid Wildtuin-inwoners op die oorkantste oewer aangedrentel om te suip. Bo draai ‘n visarend. ‘n Verskeidenheid visvangers woer-woer soos helikopters en duik blitsvinnig na benede agter hul ete aan. Buffels, olifante en seekoeie -- drie kokkedore van die diereryk -- het al binne tien minute ons kuiergaste kom bekoor. Vir enige besoeker is dit ‘n belewenis. Ander kere wag jy ure vergeefs.

Soms word jy buitengewoon verras. Soos een loom middag.... Ek en Tokkie sit in die winter van 2003 stoksielalleen by die uitkykpunt. Ons wonder wat die mense in twee safarivoertuie op die S3 aan die oorkant van die rivier dophou. Ons verkykers is voor ons oë. "Kyk daar," roep ek na 'n rukkie. “Daar’s ‘n leeu.” Dis 'n wyfie. Die skaduwee van ‘n boom kamoefleer haar doeltreffend. Tokkie tel haar nie dadelik op nie. Ek beduie. Sy bly soek. Uiteindelik: "Ja, ek het hom." Toe: "Hy kyk na ons kant toe.” "Ek sien," reageer ek. Die volgende oomblik staan 'n maanhaar langs die een Land Rover uit die lang gras op en skuur teen die voertuig verby. "Daar's nog een," roep ek. "Waar, waar?" En toe: "Maar dis die een waarvoor ek nog die hele tyd kyk." Eers op daardie oomblik ontdek ons: gedoriewaar, elkeen kyk nog die hele tyd vir sy eie leeu!

In Junie 2004 was ‘n klein groepie Sabieparkers by die uitkykpunt versteend vasgenael toe ‘n trop van 20 wildehonde ‘n waterbok in ‘n hoek dryf. Die bok blêr angsbevange toe die bloeddorstige jagters haar van alle kante pak. Binne minute was die bok voor hul geskokte oë in repe geskeur.

Die piekniekplek is die poort tot die gesogte Sabiepark-wandelpad wat net oor 'n kilometer ver al langs die Sabierivier koers vat Krugerbrug se kant toe. Die rivier is die grens van die Krugerwildtuin. Sodra jy die wandelpad betree, is jy dus op "gevaarlike" terrein. Die wete dat jy dalk nie alleen is nie, dat die oë van allerlei wilde diere jou dalk bespied, kan lei tot beklemming, of kan die adrenalien laat pomp. By die ingang is ‘n waarskuwing: hier waag jy dit op eie risiko. Jy kan jou enige tyd in gevaar vasloop. Mense het al.

Tot voor die vloed van Februarie 2000 (lees ook die hoofstuk Hart van ‘n boer op bl. 85) was die wandelpad ‘n groen tonnel tussen twee skaduryke boomlanings. Oral op die sagte grond kon jy dosyne dierespore waarneem -- kloutjies en kussingvoete. Leeus, luiperds, jagluiperds en hiënas het hier saam geloop met die olifante, seekoeie, buffels, koedoes, waterbokke en bosbokke wat wakker wandelaars van tyd tot tyd waargeneem het. In een van die reuse-trosvybome, formidabele patriarge met hul wortels diep in die klam oewergrond, het monnik-aasvoëls hul nes gemaak. Bobbejane het geswaai aan die boomslierte wat hul naam dra. Blou-apies het hul lewensvreugde uitgekwetter. Op die grond moes jy lig loop vir krokodil, groototter, likkewaan en allerlei slange. Ai, dit was soos gewyde grond waarop 'n mens hier met jou stapskoene trap.

Maar in die vloed -- die ergste in menseheugenis -- is die wandelpad uitgewis. Agterna was dit lank 'n woesteny van verrinneweerde bome, takke, opdrifsels en sandbanke so ver die oog kan sien. Die rampspoedigste verwoestingswerk van die waterwoede was hier gekonsentreer, erger as op elke ander plek. Twee jaar lank was die geliefde wandelpad onbegaanbaar en buite perke. Eers in Julie 2002 is ‘n "nuwe" wandelpad oopgestel*. Nog ru en bar. Maar al mooi aan 't regkom. Nuwe, jong boompies steek die ergste littekens van die Groot Vloed al weer taamlik weg. Vaderlandswilg, watervlier en mingerhout groei fluks. Ook doringboompies hier en daar. Die dierelewe is terug. En ‘n wins is dat oewer-aktiwiteit aan die oorkant veel sigbaarder is as tevore.

Maar om die ou glorie net halfpad te herwin, gaan lank vat. Baie-baie lank. Gooiers van groot skaduwees groei nie oornag nie.

* Die “nuwe” wandelpad is in Maart 2004 weens die teenwoordigheid van buffels gesluit. Swaar reën het die oewerbos boonop vinnig verskriklik dig en ruig laat groei. Weens die

verhoogde risiko van ontmoetings met gevaarlike diere het die tydelike sluiting ‘n onbepaalde sluiting geword. Met die skrywe hiervan was wandelings langs die rivier steeds taboe.