Hoekie van die hemel

In koerante het berigte verskyn onder opskrifte soos: “Eksklusiewe lushof in ongerepte Bosveld”; “Jou eie wildtuin op jou voorstoep”; “Mees eksklusiewe vakansiedorp in S.A.”; “Mees unieke dorpie in die land”; “Só moet ‘n mens mos leef”. Met verwondering is uitgewei oor lugfoto's wat aan argitekte verskaf word sodat hulle die huise oordeelkundig tussen die gemerkte bome kan plaas; dat plek-plek om bome gebou word om hulle te bewaar; dat die reg van toegang streng beheer word om te keer dat dit 'n "kampeerplek word vir 'n ieder en 'n elk" ….en, die pièce de rèsistance, dat die wild in die park kan loop waar hulle wil -- geen huis is afgekamp nie.

Nie almal was dadelik ingenome nie. Uit sekere oorde is Sabiepark 'n parasiet genoem wat op die Krugerpark wil teer. Ander kritici het gekla dat Transvaal reeds "ge-pokmerk is met spekulasie-dorpsgebiede" en dat Sabiepark as 't ware heilige grond vir ontwikkeling kom inpalm. 'n Derde groep was besorg oor "hoe die tafel letterlik gedek word vir 'n erge graad van konfrontasie tussen die mens en gevaarlike wilde diere". Die kritiek en vrese was nie alles misplaas nie. Hoewel die Sabiepark-konsep basies gesond was, het konfrontasies tussen mens en dier inderdaad ontstaan. Boonop is die nuwe brug oor die Sabierivier nie net deur toeriste gebruik nie. Met wildwerende heinings aan weerskante het die pad as 't ware 'n tregter gevorm waarlangs roofdiere en ander wild kon "migreer".

Omdat Sabiepark relatief ryk was aan wild, en nuwe bloed van tyd tot tyd ingebring is, het die gebied heelwat leeus en luiperds gelok. Honger roofdiere en naiëwe besoekers aan Sabiepark was 'n gevaarlike kombinasie! Stropery deur Hazyview se mense, wit en swart, was nog 'n kopseer. Die teerpad het sake inderdaad vir stropers makliker gemaak en drastiese optrede was nodig om hulle af te skrik. Nie net onwelkome leeus het onder Ian Crabtree en sy latere opvolger, sy seun Derek, se geweervuur deurgeloop nie. Die jonger Crabtree moes by geleentheid 20 kilometer ver deur die digte bos op wilddiewe se spoor voortsukkel.

Aan kopers het dit egter nie ontbreek nie, aanvanklik net uit Suid-Afrika, maar later ook al hoe meer uit die buiteland, uit Amerika, Brittanje, Kanada, die Emirate -- almal gebind deur een nasionalisme: hul liefde vir die natuur. Vir baie van die eerste eienaars was hul hektaar in Sabiepark veel meer as net 'n wintervakansie-bestemming. Dit was 'n "eie Bosveldplasie", die vervulling van 'n tradisionele hartsverlange na 'n stukkie erfgrond wat van geslag tot geslag oorgedra sal kan word Vir buitelanders was die ongeraffineerde bos “the real thing”, ‘n onvervangbare stukkie wildernis. Baie hedendaagse eienaars sien hul eiendom nog in presies dieselfde lig. As hulle aan hul plekke dink -- huise met name wat beelde van voldoening optower soos Bosgenot, Boskasteel, Hakuna Matata (daar's nie fout nie!), Vreklekker, Leeu-plesier, Mahala, Grensloos, Hemel op Aarde en Net Reg -- dink hulle daaraan nie in terme van kommersiële waarde nie. Vir hulle is dit 'n gawe uit die hand van die Skepper soos Hy die natuur oorspronklik aan die mens geskenk het. Iets met ewigheidswaarde. Kapitaalwins word nie bereken in rand en sent nie maar in voedsel vir die siel.

Hoekom iemand ooit uit dié idilliese toevlug in die bos wil padgee, weet nugter. Een van die eerste eienaars, Faan Meintjes van Klerksdorp, het sy fout agtergekom nadat hy sy groot grasdakhuis langs die Sabierivier met 'n uitsig op die brug en die Paul Krugerbeeld in 'n onbesonne oomblik verkoop het. Hy het die nuwe eienaar terstond dubbel die prys aangebied. Die koper wou niks weet nie.

‘n Ander eienaar het enkele jare gelede sy eiendom in ‘n koerantadvertensie soos volg uitgeveil (vry vertaal): “Sabiepark nestel in die ongerepte, inheemse Oos-Transvaalse bos. Hierdie paradys aan die Sabierivier, ‘n klipgooi van die Kruger-Wildtuin, is naby Hazyview, Graskop, Pelgrimsrus en Blydepoort. Die eiendom is omring deur bosveld en bied ongelooflike stapgeleenthede langs die Sabierivier. Wild- en voëllewe is oorvloedig. Grootwild kan van naby teëgekom word. Ideaal vir die 4x4-entoesias, die natuurliefhebber of mense wat aan die stadsgejaag wil ontsnap. Die eiendom lê binne die hoësekuriteitsgebied van Sabiepark en verleen toegang tot ‘n groot, aanloklike swembad, tennisbaan en piekniekplek op die rivieroewer.”

As dit soos ‘n hoekie van die hemel klink – vir elke Sabieparker is “hoekie van die hemel” ‘n nommerpas beskrywing. Geen wonder nie. As jy dit goed tref, kan jy soos Kapous en Leonora Mouton van Vreklekker (erf 169 in Wildevylaan) dertien spesies op ‘n dag te voet in Sabiepark raakloop; of nege spesies in ‘n uur soos die Van Deventers op ‘n kort namiddagstappie. Buitengewoon gelukkiges, soos Sarel en Julie van Vuuren van C’est la Vie (erf 233 uit Apiesdoringlaan), beleef van hul voorstoep af seldsame boservarings, soos ‘n geveg tot die dood toe tussen twee aggressiewe bosbokramme. Die slagoffer syg enkele meters van hulle af met ‘n deurboorde long dood in sy spore neer. Toe kom ‘n luiperd daardie aand die dooie bokkie haal en sleep hom ‘n entjie verder die bos in. Maar toe daag die hiënas op. Vier van hulle. Dwarsdeur die nag kraak dit in die Van Vuurens se ore soos hulle gulsig aan die bosbokvleis weglê. En die volgende oggend is feitlik niks oor nie.

Elke huis het sy eie suiping. Tot kameelperde kan daar kom bene knak om te drink. Ook al die ander bosbewoners: van die bloukuifloeries tot die bobbejane. Vlakvarke duik sommer kop eerste in die koel water. Ons watergat is minder as tien meter van die voorstoep -- net mooi naby genoeg aan ons slaapkamer dat ons snags die proes- en slurpgeluide kan hoor en vinnig kan opspring.

By elke bewoonde huis brand saans ‘n kampvuur. Om die vuurtjie, onder die blinkste, blink sterre, word al die Sabieparkstories opgediep: verhale uit die veld, dieredramas, die goeie ou dae -- verhale van leeus en luiperds, olifante, luislange en dodelike spoegkobras, van skrik en benoudheid, van vangste en reddings. Jy sit langbeen in die vlamme en tuur terwyl jy meegevoer luister hoe die bos lewe. Seekoeie blaas luidrugtig. Bokke snork senuweeagtig as gevaar dreig. Hiënas roep en huil troosteloos. Soms brul 'n leeu aanhoudend van anderkant die grensdraad (hopelik!).

Vervolg ...