Hoekie van die Hemel
Sabiepark is ‘n wonder-like, onontdekte plek. Op pad Wildtuin toe, wonder
verbygangers oor die yl verspreide grasdakhuise tussen die maroelas,
jakkalsbessies, knoppiesdorings, blinkblaar-wag-'n-bietjies, huilboerbone en 'n
norring ander van die plus-minus 400 soorte Bosveldbome regs van die pad. Ry
besoekers in die Krugerpark op die S3-grondpad al langs die rivier af weswaarts,
wonder hulle weer oor die grasgroen oase oorkant die rivier en die gespikkelde
oewerhuise oor die eerste kilometer of twee van hul rit.
Die huise, bome en grasperk wat ‘n mens van hierdie twee paaie af skrams waarneem, is Sabiepark. Hierdie Laeveldse Eden aan die noordoewer van die Sabierivier dek 'n gebied van 338 hektaar wat van die vrugbare Lisbon-landgoed af ooswaarts tot by die Krugerhek strek. Hier tussen die bome, waar sowat 250 stuks wild onbelemmerd tussen die huise wei, het die bevoorregte eienaars van die sowat 270 eiendomme hul tentpenne kom inslaan. Van die huise is ruim en imposant, ander is klein en beskeie. Baie is vindingryk versteek in pypsteelerwe wat nie van die strate af sigbaar is nie. Verreweg die meeste is intiem met die omgewing versmelt.
Die oase is Sabiepark se piekniekplek -- sy “vlagskip”. Enorme rooi-essenhoute, trosvye en worsbome werp hier hul skaduwees oor 'n kleed van groen gras en gemesselde braaiplekke. Die Sabierivier bruis oor ‘n klipbank verby op sy pad na Mosambiek. Oorkant lê die Wildtuin. 'n Namiddag-heerlikheid is om met 'n verkyker, ‘n voëlboek en ‘n bottel koue witwyn (of 'n fles koffie) op 'n bankie of 'n stuk boomstomp langs die oewer te gaan uitspan, en rustig die vredige toneel met diep teue in te drink.
Oor Sabiepark moet nuuskieriges egter net bly wonder. Om sy geheime te ontdek, is ‘n besoekerspermit van ‘n eienaar noodsaaklik. Anders beland jy voor dooiemansdeur. By die wawyd-wakker Sjangaanse hekwagters, Nelson, Solly en Thomas, kom jy nie met ‘n gladde mond en slimpraatjies verby nie. Sabiepark is jaloers op sy vreedsaamheid en stilte. En op sy privaatheid. Selfs 'n eienaar kan nie sommer by die kantoor instap en 'n mede-eienaar se adres gaan vra nie. Laasgenoemde se verlof is nodig.
Sowat twee kilometer voor die Krugerhek is Sabiepark se sierhek met sy sebra-embleem, half versteek agter ‘n laning bome sowat 50 meter van die teerpad af. Agter die hek leef mens en natuur in harmonie. Die mens besef hy is hier die indringer. Die meeste buig gewillig voor die eise wat dit stel. Daarom val hulle in by 'n stel streng reëls wat vir buitestaanders plek-plek ongewoon kan klink.
Net vier maande per jaar -- dit is byvoorbeeld, tot algemene verbasing, die maksimum tyd wat elke eienaar in sy eie klein koninkryk vir homself gun. Die ander agt maande staan hul huise gegrendel. Dit is die prys van eksklusiwiteit. So behou hul plek sy unieke rustige karakter en word die infrastruktuur nie ooreis nie. Bome, plante en struike word ook nie afgekap nie; wilde diere of voëls nie gejag of versteur nie. Troeteldiere, vuurwapens, luide musiek en jaglampe -- selfs die optel van vuurmaakhout in die veld -- is taboe. Elektrisiteit is daar nie. Saans kom die lig van die maan, van kampvure wat kol-kol opflikker, van sonkrag, gas- en paraffienlampe en lanterns.
In Sabiepark het droom en werklikheid versoen geraak. Die versiende sakeman Werner Ackerman het lank gedroom van so 'n wegvlug-plek van die stad se gewoel en rumoer; 'n plek waar die diere- en planteryk so ongeskonde moontlik behoue bly, en vermoeides in vrede hul batterye kan herlaai. Die ideaal begin vlerke kry toe die sitrusplaas Lisbon aan die Sabierivier (eienaar: David Graaff Foods Ltd) in 1973 onder die hamer kom. Deel daarvan was ‘n lappie ongerepte Bosveldgrond aan die Sabierivier, bekend as sir David Graaff, ouer broer van sir De Villiers Graaff, se persoonlike “sanctuary”.
Ackerman het dadelik die moontlikhede raakgesien. Hy nooi die sakelui Albert Wessels, Jan de Necker en Daantjie du Preez en ‘n landmeter, Phil Jooste, om hul gewig in te gooi. Die konsortium word toe die nuwe eienaars van Lisbon (wat hulle na ‘n paar jaar weer verkoop het) – en van Graaff’s Sanctuary. Kort daarna word die nuwe teerpad van Hazyview na die Krugerhek voltooi. Die “sanctuary” is daardeur as' t ware geamputeer van die Sabi-Sand-wildtuin waarmee dit ‘n eenheid gevorm het. Daardie kosbare "afvalgrondjie", feitlik omring deur die Krugerpark en die Sabi-Sand, was nie juis vir landbou geskik nie. Dit was egter ideaal vir die vestiging van 'n natuur- en wildbewaringseenheid -- die toekomstige Sabiepark.
Omvangryke navorsing en lang onderhandelinge met die destydse provinsie Transvaal volg. Daarna laat die vyf stigters nie gras onder hul voete groei nie. Jooste -- hy en De Necker is nou nog eienaars -- was stadsbeplanner van Klerksdorp. Hy het die gebied opgesny in erwe van rondom een hektaar elk, dienste is aangelê en 'n skilderagtige piekniekterrein ontwikkel. Sir David se “sanctuary”sou nou vir al hoe meer mense ‘n persoonlike heiligdom word. Die bemarking kon begin.
Vervolg ...


