Het jou!

Op ‘n Vrydagmiddag twee weke later bemerk ek 'n Land Rover wat lank in Wildevylaan staan, skuins voor Tarlehoet. Ek peuter maar voort met die wildspotjie vir ons peetkind, Jaco van Wyk van Pretoria, en sy vrou, Lientjie, se kuier. Later kom ek agter al hoe meer motors dam op. Ek gryp die kamera en drafstap met die gruispad af. Die nuus is uiters frustrerend. Dit WAS die luiperd. Dié Groot Prys het tien minute lank op 'n miershoop voor die Van Heerden-bure (erf 155 in Wildevy) se huis gelê. Asof hy vir fotograwe poseer. Nou's hy weer weg. Die geknars van my sandale op die gruis het hom laat padgee, aanvaar ek -- en verwens myself. In sulke situasies leer 'n mens egter nuwe vriende ken. Op uitnodiging is ek rats(!) agter op die bakkie van Nic de Jager, broer van Xander van Gwarrieboslaan. By hom is Frik Steenkamp (erf 289 in Appelblaarlaan), hul vroue en kinders. Ons vorm 'n impromptu soekgeselskap. Vergeefs. Later die aand sien Griet twee blink oë na aan die grond aan die agterkant van ons huis. Dalk die luiperd? Niemand weet nie. Maar my kameravinger jeuk al hoe intenser!

Sondagmiddag 16 Julie 2000 breek aan. En presies om 16:15 klik die Canon. Die resultaat sal nie 'n wenner in Agfa se fotowedstryd oor die natuurlewe wees nie. Maar so-wie-so. Doer in die veld, omring van takke en gras, sit Sy Edele Heer Luiperd, kop trots omhoog, met sy geelbruin vel en swart rosetvormige kolle, goed gekamoefleer tussen die skadupatrone van ‘n maroelaboom se blare. ‘n Paar oomblikke tevore wou ek en Tokkie afstap rivier toe, mandjie in die hand. Toe spat rooibokkies oos van die huis skielik bewend in twee rigtings uiteen. Groot dringendheid en skrik klink op uit daardie harde plof-snorkgeluid wat hulle maak as iets hulle hewig ontstel. Ek kyk rond. Toe val my oog op die bonkige kop wat bo die gras uitsteek.

Ons spring in die Honda en ek probeer hom so trek dat ons 'n onbelemmerde uitsig het. Later wurm ek my deur die sondak, kamera in die hand. Ek mik en skiet. Dit is nie maklik nie, want my voorwerp is laag teen die grond en die dertig meter tussen ons is ver van oop. Maar hoe lank het ek nie hierdie foto gejaag nie! Daar was teleurstelling, teenspoed en erge verydeling. Nou kon ek selfvoldaan sê: missie (feitlik) uitgevoer.

'n Paar minute sit die luiperd doodstil. Ek neem en neem. Toe staan hy op, rek hom uit, kyk in ons rigting en verdwyn soos ‘n groot speld. Apiesdoringlaan se kant toe. So lyk dit. Die Honda seil oor die hoë boggels, op en af in Wildevy, Apiesdoring en Gwarriebos. Ons kry niks. 'n Halfuur later kom ons teruggery. Van ver sien ek hom -- presies op dieselfde plek as vaneffe. Hy’t ons lekker geflous. Later sak die donker toe. 'n Gekraak klink op, gewis nie net takkies nie. In die lig van 'n sterk flits sien ons die vurige oë blink.                      

Vroeg die volgende oggend pyl ons in daardie rigting. Ons kry rooibokhare, enkele stukkies binnegoed, pensmis en 'n klompie bloedspatsels. ‘n Patetiese hopie. Die gekraak was niks anders nie as die luiperd se aandete -- binne roepafstand van ons eie maaltyd langs die gloeiende kole van ons vleisbraaivuur. Presies wanneer is die slagoffer platgetrek? Voor of na ons ontdekking van die vorige middag? Daardie rekonstruksie van gebeure is moeilik. En wat sou van die karkas geword het? Dis waarskynlik weggesleep digter bosse toe. Handa Zeller meen daar kan 'n welpie wees wat ook gevoed moet word. Dit sou die snorkgeluid kon verklaar wat ons daardie oggend uit die rigting hoor, asook die ritteltits van 'n trop koedoes wat ‘n rukkie later kom wei het terwyl ek in Hazyview was om my film te laat ontwikkel. Tokkie, Ouma en Griet is dit roerend eens: die koedoes se hees geblaf was rou vrees; die luidrugtigste wat hulle nog gehoor het. Asof hulle reageer op ‘n militêre bevel, laat vat die bokke toe egter skielik in aller yl -- nes die rooibokkies die vorige dag.

Net 72 uur later klik die Canon weer. Om 17:45 op 19 Julie 2000 om presies te wees. Na ‘n besoek aan die piekniekplek. Ek en Tokkie ry stadig huis toe. Ons oë soek-soek. Net deur die driffie by Marten en Teresa van Breda se rondawelhuis (Thula Thula, erf 231 in Wildevy) vang die Honda se ligte ‘n donker silhoeët langs die pad. Geen twyfel nie: dis ‘n luiperd! ‘n Ontdekkingskreet (darem nie te hard nie!) klink op in die aandlug. Sy (waarskynlik ‘n sy volgens die grootte van die kop) skrik gelukkig niks vir die skielike geselskap nie, maar kom met haar atletiese lyf nuuskierig nader gestap. Die stert kwispel. Dit lyk of sy lippe aflek. Toe’s dit darem kamera gryp, fokus en sluiter druk vir 'n vale. Sommer deur die motor se voorruit. Het jou! Het jou! Het jou! Dis die een flits op die ander.

Terwyl ek vorentoe en agtertoe maneuvreer vir die beste hoek, wag Tokkie geduldig met haar outomatiese Pentax, wat spesiaal vir sulke "noodgevalle" bedoel is. Die oomblik toe die manjifieke dier aan haar kant langs ons inbeweeg, laat waai sy ook. Maar om 18:00 in Julie drie dae na volmaan is Sabiepark middernag-donker. Dis mog-het-troffe-fotografie die! Ewe sportief gee die pragdier ons egter 'n tweede kans. Sy drafstap lui deur die driffie, swaai terug pad toe en draai by Izak Fick (erf 230 in Wildevy) se motorpad in, waar sy 'n paar oomblikke in die sterk ligte soos 'n standbeeld bly staan. Fier en uitdagend. Weer flits dit twee, drie keer. Ek met die Canon. Tokkie met die Pentax. Later, by die huis, trek ek 'n bottel Roodeberg nader. Op Operasie L! Net my heel beste rooi is goed genoeg om op so ‘n unieke Sabiepark-ervaring ‘n glasie of twee te klink.

Wyntjie in die hand, sink die werklikheid in: ons loop daardie pad elke dag. Party dae loop ons dit twee keer. Een keer soggens vroeg en een keer smiddae so teen vyfuur tot half-ses. Gelukkig was ons hierdie keer nie te voet nie. Anders het Operasie L dalk minder seëvierend geëindig. En het Buurman van die Wildtuin dalk nooit die lig gesien nie.