Het jou!

Gelukkig is ‘n lentevakansie geskeduleer. Net twee maand later, op Donderdag 23 September, keer ons terug na ‘n Sabiepark met ‘n sagte groen skynsel danksy milde reën in die laat winter. Op Woensdag 29 September is Tokkie alleen by die huis. Sy sit en lees. Nie 'n vreeslik spannende of letterkundige boek nie. Sommer ‘n stokou tydskrif wat haar nie juis boei nie. So vervelig dat sy telkens in die yskas gaan snuffel. Omstreeks 11:45 staan sy weer op. Sy sny vir haar 'n stewige stuk cheddar, sit dit op 'n Pro Vitabeskuitjie, vat 'n hap en loop terug na die leunstoel. Deur die skuifdeur van die eetkamer vang sy uit die hoek van haar oog ‘n beweging.

Sy steek vas vir 'n kyk weer. Dis die luiperd, hoog en droog. Hy sit en wikkel sy ore. Mens en dier maak oogkontak, skaars vyf meter uit mekaar. Tokkie koes vinnig agter die stam van die knoppiesdoring op die stoepplaveisel in. Die luiperd maak ook 'n soort koesbeweging asof hy dieselfde plan het. My vrou vermoed sy het op daardie kritieke oomblik die kaas en beskuitjie feitlik ingesluk. Die stukkie wat oorgebly het, gooi sy neer. Toe duik sy agter die gordyn in -- doeltreffender skuiling as ‘n boom se stam! -- en maak honderd persent seker dat die luiperd sit waar hy sit. Sy hark die kamera nader. Dié gryp sy en trek die lang lens vol uit. Sy pluk die deksel af terwyl sy al halfpad met die trappe op is. Van bo af, vermoed sy, sal sy 'n beter foto kry. Dis gelukkig ‘n ander venster hierdie keer as die een wat die uwe voorheen getroef het. Die gevaar is ook nie dat sy so naby aan ta sal kom dat hy dalk skrik en opstaan nie.

By die venster wag egter ontnugtering. Dié swaai sonder haakplek oop. Maar die besoeker is skoonveld. Toe kom sy eers agter hoe naby hy werklik was. Sy moet amper styf teen die huis afkyk om die kolletjie te sien. Ver kan hy nie wees nie, besef sy. Sy bespied die omgewing goed van bo af, kom toe met die trappe af en loer by al die vensters en glasdeure uit. Maar sy sien niks -- absoluut niks. Nou skuif sy die sitkamer se skuifdeur versigtig oop en sluip op die stoep uit, kamera nog in haar hand. Sy maak doodseker dat niks van agter kom nie, en versit daarna voetjie vir voetjie na die hoek van die huis. Sy steek net haar kop om die hoek. ‘n Paar tree verder draf die luiperd lui-lui die gras in en verdwyn agter ‘n groot bos. Lank bly sy nog so staan en kyk na die veld, verslae en gefrustreerd. Sy sou darem lekker vir my kon tong uitsteek as sy met ‘n foto kon spog. (As sy eerlik moet wees, moet sy egter erken sy het so gebewe dat sy twyfel of sy 'n bruikbare foto sou kon neem, het sy later in ‘n openhartige oomblik verklap.)

In die huis begin sy soek na die lensdeksel. Sy kry dit op die vloer, asook 'n krieseltjie kaas op ‘n flentertjie beskuit. Sy gaan tree toe af tot waar die luiperd gesit het. Net vyf meter van die huis, heelwat nader as die eerste een wat ons as nuwe intrekkers so benoud gehad het. Op die motorpad gaan soek sy na voetspore. Sy kry egter niks. Daardie stukkie pad is te hard. Toe gaan staan sy buite en wag om vir my van haar wedervaring te vertel. Toe ek stilhou, borrel dit uit: "Ek sweer dat ek net die waarheid gaan praat." Sy verras my met haar storie. En natuurlik glo ek haar onmiddellik. Oor sulke gewigtige sake maak ons nie grappies met mekaar nie. Kom sit hier waar jy die luiperd sien sit het, vra ek. Toe neem ek ‘n foto van haar, maar dis bitterlik ver van die eerste prys. Weer amper. Maar nog nie stamper nie. Daardie ontwykende foto sal ons egter nog kry. Dit belowe ons mekaar. Hopelik die volgende vakansie...

Een kantaantekening is darem nog nodig. Dit is oor watter wonderlike kuur sulke opwinding is vir daardie klein onenigheidjies wat soms in die beste huwelik opduik. Die Van Deventers was sedert die vorige dag of wat op “rookseine” (Manie Steyn se woord) na 'n misverstand by die kampvuur. Na die luiperd wag sy my egter borrelend op die stoep in, amper soos toe ons nog jonk was. In sulke oomblikke ontdek 'n mens gou: julle is darem nie regtig so kwaad vir mekaar nie!

Operasie L hervat in Junie 2000. Harde gromgeluide (bromgeluide?) jaag my en Tokkie ‘n wintersoggend skuins voor 06:00 uit die vere. Leeu? Ek dink nie so nie, al is leeuspore 'n dag of drie tevore by erf 161 gekry en drie rondlopers dieselfde dag by Lisbon-landgoed aan ons westekant aangekeer. Luiperd? Dit is waarskynliker. Die "skarlaken pimpernel" van Sabiepark is juis glo die vorige aand om 22:00 by erf 232 op die hoek van Wildevy- en Apiesdoringlane opgemerk, 'n klein entjie van ons af. Daardie gromme, diep en gutturaal, laat ons sonder om te dink twee keer flits in die hand na buite storm. Toe raak dit stil. Ligdag is Tokkie weer buitentoe om in die bosse agter die watergat te gaan soek. Sy is so seker dit is waar sy die "ding" gehoor het dat sy stom verbaas is om niks te kry nie. En ek kan nie met haar verskil nie, hoewel ek oor die onversigtigheid moet raas.

Vervolg ...