Het jou!
Luiperds is lief vir Sabiepark. Die volop wild is ideaal vir jag. Vars water is maklik bekombaar. Die veld is lekker ruig. Bedags bied die bos ordentlike skuilplek. Ook vir Tarlehoet het luiperds blykbaar ‘n affiniteit. Na die eerste groot skrik op 16 Maart 1998 neem die luiperd-aktiwiteit op ons drumpel vinnig toe.
Dat ons al hoe meer daarvan bewus word, kan wees omdat die radar van ons sintuie
instinktief fyner ingestel geraak het. Daardie pasella-foto wat ek in 1998 deur
die vingers laat glip het, was soos ‘n kritieke vangskoot in ‘n beslissende
Wêreldbeker-krieketstryd wat verbrou word. Jy vergeet dit nooit. Ons wóú die
teleurstelling van die boeke en uit ons herinneringe vee. Om weer op eie werf
een van die geheimsinnige spesie panthera pardus in die oë te kyk, het ‘n
oorweldigende drang geword. Om hierdie keer gerat te wees vir ‘n foto, was ‘n
missie.
Dit het vir ons ‘n projek van die hart geword. Een met ‘n naam: Operasie L. Daardie L het nie gestaan vir loerie, likkewaan, luislang of selfs leeu nie. In ons visier was een enkele bosbewoner oorheersend: een van Sabiepark se sesstuks inwonende en besoekende luiperds. Niks meer en niks minder nie. Ons aptyt is aangewakker deur vertellings soos dié van John Izaacs, ‘n plaaslike bouer. Hy was getaak om vir ons ‘n lapa’tjie ‘n entjie van die voorstoep te bou. Die laaste oggend van daardie projek -- een van ons blinkste ingewings -- kruie hy en sy bouspan soos gewoonlik met sy bakkie stadig in Tarlehoet se motorpaadjie op. Toe hulle stilhou, spring ‘n luiperd oor die stoepmuurtjie en verdwyn in die lang gras. Was Tarlehoet se stoep dalk die roofdier se gereelde slaapplek as ons nie daar is nie? ‘n Mens kan net bespiegel. Maar die lugtige lede van die bouspan het daardie dag bra omkyk-omkyk gewerk!
Ook Johan en Mariza was gelukkig. Die twee is lief vir ‘n aandrit om die dag mee af te sluit. Met hul tuiskoms versteur hulle een aand die glibberige dier by die nuwe lapa. Mariza kry ‘n foto skuins van agter. Nie baie skerp nie. Maar ten minste waterdigte getuienis! ‘n Wakker Sabieparker op pad piekniekplek toe loop kort daarna vroegmiddag ‘n luiperd in Wildevylaan raak. Die dier draf naby Tarlehoet oor die pad van die rivier se kant af . Dit lewer ‘n duidelike foto vir die kennisgewingbord.
Ek en Tokkie bly soek. Maar Griet sweer hoog en laag ‘n yslike grote het houtgerus in die maanlig op die agterstoep kom kuier. Dis weer die muskeljaatkat, dag sy eers. Dié was vroeër die aand daar. Toe sy uitloer, lê die groot kat egter uitgestrek voor haar. ‘n Rukkie later stap hy by haar kamer verby terwyl sy halflyf by die venster uithang. “Hoekom het jy ons nie geroep nie?” Nee, sy het met ‘n besemstok teen die houtplafon van haar buitekamer gehamer. Maar ons was blykbaar diep in droomland.
Met ons aankoms vir die wintervakansie van 1999 hoor ek en Tokkie dadelik slegte nuus. ‘n Waterbokbul is pas deur ‘n luiperd gevang. Net daarna sneuwel ‘n waterbokooi. Sabiepark is maar suurderig oor die verliese, want waterbokke is skaars en ‘n hervestigingsprogram verloop maar sukkel-sukkel. Die volgende vangs is 'n ou, tandelose blouwildebeeskoei. Sy word een nag vlakvoor die TV-rondawel platgetrek. Ons sien toe watter fynproewers luiperds is. G’n taai vleis vir hulle nie, dankie. Net die sappigste boudvleis is weggevreet vir die nagtelike happie. By die res van die karkas neem ek en Tokkie oor en weer foto’s van mekaar. Anders as met die waterbokke was die keuse van prooi die keer bedagsaam. Die slagoffer was oud en afgeleef. Buitendien moes blouwildebeeste uitgedun word. Net die vorige aand het Tokkie maklik dertig op ‘n bondel op die hoek van die strate Wildevy en Maroela raakgeloop.
Die volgende L-episode is net enkele dae later. Die selfoon lui. “Kom gou,” sê die liewe Pally van der Walt van die kantoor. Dit blyk ‘n luiperd draf op en af teen die grensdraad langs die pad na die Krugerwildtuin, digby die plek waar een van sy voorouers, agter ‘n impala aan, voorheen doodgery is. Die padslagoffer se vel hang oopgespalk in die kantoor. Ons is weer te laat. Maar die afwagting neem toe. Die spoor word warm.
Die luiperd(s) raak ook al hoe astranter. Een daag om 07:30 op sy gemak by die piekniekplek op en paradeer op en af. Albert Sibuyi en Roger (destydse assistent by die piekniekplek) sit en tee drink toe hulle hom op die parkeerplek gewaar. Hy dwaal rustig rond en slenter by die bosryke erf 281 langs die rivier in. Tokkie ontdek later sy spore in Wildevy. Niemand sou kon stry oor daardie spore nie. Net ‘n luiperd wat dit kon getrap het. Sy roete was blykbaar dieselfde as ons s'n op ons daaglikse wandeling rivier toe!
Die vakansie snel verby met Operasie L, helaas, onafgehandel.
Vervolg ...


