Hartkos

Annalien Steyn, gas van Piet en Verity Möhr, kom in haar “Ode op Net Reg se stoep” (Vergelyk die hoofstuk Tannemanne op bladsy 69) tot die volgende slotsom: “Kan daar nog ‘n plek soos dié op aarde wees? Sabiepark jy steel my hart, my hele gees.” Maretha van Wyk, ons skoonsuster van Harrismith, laat in Tarlehoet se eie gasteboek nie op haar wag nie. Sy bevind digterlik: “ 'n Besoek aan Tarlehoet sorg vir vrede in elke gemoed”. En na ‘n tweede besoek: “Siel en liggaam is weer gevoed na nog 'n besoek aan Tarlehoet!”

Die natuur is 'n boek waarvan God die outeur is, het Moses Harvey sy inspirasie in Science and Religion verwoord. Inderdaad. Die goddelikheid van die natuur is seker meer as elke ander onderwerp deur skrywers deur die eeue heen besing. Min Christenmense kom in die Bosveld en sien nie dadelik in die natuur -- soms in die kleinste klein dingetjies -- opnuut die grootsheid van die Vader en sy skepping raak nie. Die digter-skoolhoof Faan Venter het die volgende Mymeringe oor Job 39 ook by Leeuplesier die lig laat sien:

“Wie jag die prooi vir die jong leeuin

En wie bring saans haar ete in,

Wie maak snags die jong leeus stil

As hulle hard om voedsel brul?

Wie gee vir die kraai sy kos

As hy sy kinders honger los,

Sorg vir die steenbokkie se kind

Tot hy sy eie rigting vind?

Wie laat die kwagga vry rondloop

Die bande wat hom bind, ontknoop,

Wie laat hom lag oor stadsgewoel

Oor mensebande sonder doel?

Wie weet dat die buffel vry wil wees

En nie jou dienskneg soos die bees?

Hy’s nie bereid om jou te dien

Omdat hy net die vryheid sien!

Die vlerk van die volstruis klop bly,

Waar haar nes is, weet net sy,

Al is haar deel aan wysheid klein

Oorleef sy in die groot woestyn.

Ek sal soos Job ook ophou twis

In die besef hoe klein ek is;

Ook in hierdie ruwe land

Leef mens en dier net uit U hand”.

Verskeie inskrywings in ons gasteboek weerspieël dieselfde diepe besef van Gods hand in die natuur. Een, wat diep getref het, kom uit ‘n onverwagse oord. Die outeur is my seun, Johan, wat homself as ‘n saaklike, nie-emosionele mens beskryf -- een wat liewer praat as skryf, en dan ook nie met ‘n omhaal van woorde nie. In sy enigste bydrae tot daardie boek tot dusver skryf hy: “ ’n Besoek aan Sabiepark is ‘n unieke geleentheid vir mense soos ons wat in ‘n uiters kompeterende samelewing werk en woon, om nader aan ons Skepper te beweeg. In Sabiepark is nie plek vir materialisme of enigiets wat daarmee verband hou nie. Dit is hier waar ‘n mens die grootsheid van die skepping en die Almagtige Vader besef, vrede vind in alle gebeure in en om jou lewe, en hoop en vertroue in die toekoms kry.”

Hier is nog vier besielde en besielende bydraes:

Nella Jacobs van Centurion: “Hier waar 'n mens een word met die natuur kan ons al die goeie gawes van ons Vader weer raaksien en waardeer.”

Piet Theron van Bloemfontein: “Jul plek met die oerklank in die naam is 'n paradys waar mens naby die diere, grond en Skepper kan leef.”

Maretha van Wyk van Harrismith: “Die kontras tussen die eetlepelgrootte van die skilpadjie in die pad en die kolossale olifantbul langsaan in die digte bos het ‘n mens opnuut skeppingsbewus gemaak.”

En Salie de Swardt van Kaapstad: “ Nou, na dae van rus en hernuwing, kyk ons met verwonderde oë na die grootsheid van die skepping. Watter wonderlike, onpeilbare, grootse Mag het so wyd en divers geskape dat ons ons kan verwonder aan die kleine nagapies op Tarlehoet se voorstoep, net om ure later ewe vol verwondering van die agterstoep op te kyk na waar 'n kameelperd die boomtoppies snoei?”

Ai, dis mos hartkos hierdie – hartkos vir die fynproewer!