Hartkos

Die boervrou-rubriekskrywer Zaza Pieterse en haar man, Jan le Roux Pieterse van die plaas Groningen, distrik Smithfield, het Sabiepark in Junie 1999 ontdek. Hulle het geborrel toe ons hulle in Wildevy raakloop, ons op pad piekniekplek toe en hulle op pad terug. Oor ‘n koppie koffie op Tarlehoet se stoep het ek Zaza gevra om haar indrukke op skrif te stel. Dit het sy op haar kenmerkende manier gedoen in ‘n rubriek in Die Volksblad (nou net Volksblad) op 1 Julie van daardie jaar.

Onder die opskrif Dinge-inne-bos wat roep beskryf Zaza Sabiepark in die kol as net “leeubrul-ver van die Krugerhek af”. Die “huis en grasdak (word hier) eenvoudig om ‘n groot boom gebou, omarm hom, troetel hom. So min as moontlik word versteur of uitgehaal.” Sabiepark se boshuise het klaarblyklik haar hart gesteel. Sy skryf: “Dis pragtige plekke. As ‘n mens só in die kronkel-Bosveld-‘strate’, elk met ‘n boomnaam, stap en mooi tussen die bome deur korrel, gewaar jy hulle, ente uitmekaar, hierdie klip- en growwesteenparadyse met hul grasdakke wat niks van die bosveldgeit bebodder nie.”

My eie liefde vir Sabiepark stort ek ook met pen op papier uit. Voor Buurman van die Wildtuin het ek in 2001 ook ‘n boekie oor Sabiepark die lig laat sien. Sy naam was Halfpad Hemel Toe. Dit was ‘n boekie met ‘n beperkte oplaag, net geoormerk vir familie en vriende as ‘n “geskenkboek en gedenkboek” met my sestigste verjaardag twee dae na die werklike aanbreek van die nuwe millennium, volgens die eksperts. Zaza se Dinge-inne-bos was oorspronklik hiervoor bedoel.

Van die ontvangers het van die titel afgelei dis ‘n “geestelike boek”. Of dat die “halfpad hemel toe” ’n verwysing is na my sestig jaar op die ondermaanse; wat sekerlik op ‘n ietwat optimistiese lewensverwagting sou dui! Sy oorsprong was egter iets heeltemal anders. Op die bonkige dennehout-koffietafel onder die outydse sonkrag-dakwaaier in die voorkamer van Tarlehoet lê neffens die besoekersboek ook ‘n soort dagboek. Daarin teken ek, Tokkie en gaste -- soos die gees ons lei en die drang ons beetpak -- ons ervarings op, wanneer dit nog vars in die geheue is. In my verjaardagboek is daardie inskrywings, ietwat verkort en plek-plek geredigeer, onder meer gepubliseer. Pieter Pieterse se stuk oor die Bosveld se sterre uit Boude en Blaaie verskyn daarin, asook die aangrypende Psalm 8: 4 en 5:

“As ek U hemel aanskou,

die werk van U vingers,

die maan en die sterre

waaraan U ‘n plek gegee het,

wat is die mens dan

dat U aan hom dink,

die mensekind dat U na hom omsien?”

In Apiesdoringlaan, ‘n entjie noord van Tarlehoet, staan Leeuplesier. Faan Venter, voormalige hoof van die Hoërskool Piet Retief, het na ‘n kuier daar by kerslig ‘n gediggie geskryf wat deur sy gasheer, Humty du Toit, sorgvuldig bewaar word. Venter dig oor sy kuierplek onder meer soos volg:

“Ons plek se naam is Leeuplesier

'n Lekker plek vir mens en dier

Jy kry ons plek in Sabiepark

'n Moderne soort van Noag's Ark

Soek nooit na ons -- ons is altyd hier.

Hier is weer rusplek vir die vlees

'n Plek waar mens weer mens kan wees

Hier vlug ons vir te veel kultuur

Gehoorsaam ons slegs die natuur

En kry weer balsem vir die gees.

Hier vind die eensaam struis 'n huis

'n Leë struis word hier volstruis

Die vlakvark word ook gou tevree

As jy hom oorskietpap kan gee

Adoons voel vanselwers tuis.”

Vervolg ...