Hartkos
Vir Frederick Nel (13), wat by die skrywe hiervan in graad agt aan die Hoërskool Montana in Pretoria was, het ek by sy oupa en ouma, Frik en Martie Nel van Bosveld, raakgeloop. Die dapper seun is al in sy jong lewe deur diep waters. Hy is een van net sowat 50 mense in die wêreld wat aan ‘n oorerflike siekte ly wat amper soos marmerbeensiekte is. Hy het al vyftien operasies aan sy skedel op sy kerfstok. Die siekte veroorsaak dat die been in sy lyf te vinnig na binne groei. Dit maak sy arms en bene lekker sterk. Dit sal nie maklik breek nie. Ongelukkig veroorsaak die siekte ook dat sy skedelbeen te vinnig groei en sy brein begin druk. Sy gesigspiere trek dan skeef. Dit is wat hom telkens onder die mes laat beland. Die dokters moet sy skedel verwyder en dit binne afskuur om weer plek vir sy brein en al die senuweedrade te maak.
Weens die drukking op sy brein, is dit vir hom lewensgevaarlik om aan sport deel te neem. Hy kan nie soos ander seuns van sy ouderdom rugby speel of trampolien spring of selfs net sorgeloos rondhardloop nie. Frederick het ook die probleem dat hy nie altyd mooi kan hoor nie, omdat die klein beentjies in sy oor ook weens sy skaars siekte verdik. Met die ondersteuning van sy familie en vriende pas hy sy lewe al goed by sy omstandighede aan, verklaar hy moedig.
Die middag toe ons hom ontmoet, was dit gou duidelik dat sy tweelingsuster, Clarise (die ene wat haar op die wandelpad amper in die olifante vasgeloop het), en jonger broer, Schalk, baie trots op hierdie broer van hulle is. “Toe, Frederick, kom wys vir oom Hennie en tannie Tokkie jou tekeninge,” het hulle hom gepor. Frederick bring toe beskroomd ‘n sketsboek te voorskyn. Ek en Tokkie was verras. Al wat ‘n dier is -- olifant, kameelperd, koedoe, vlakvark en al die ander – het hy met sensitiwiteit en ‘n sekuur hand afgebeeld.
Oor Sabiepark raak hy sommer begeesterd: ”Ek geniet Sabiepark geweldig baie, want ek is baie lief vir die dierelewe en die natuur Ek skilder -- of is dit nou teken? -- graag. Die piekniekplek en die swembad is my gunstelingplekke. Dit bied my die geleentheid om myself uit te leef in my stokperdjie, my gesin en die natuur wat Jesus vir ons gegee het.” Op my versoek maak Frederick toe spesiaal ‘n paar Sabieparksketse oor tonele en diere wat hom na aan die hart lê. Die versoek het hom eers “ ‘n bietjie probleme gegee”, omdat Sabiepark so ‘n groot verskeidenheid het “dat dit my deurmekaar maak”. Nadat hy gewik het, besluit hy op ‘n skets van die nuwe ingang en ‘n diereportefeulje wat ‘n wye verskeidenheid voëls insluit. Dankie, Frederick, jy’s ‘n ster.
Skrywers en digters uiter oor die natuur derduisende gevleuelde woorde. ‘n Loflied aan die Bosveld wat in meer as een huis in Sabiepark ‘n ereplek het -- dit hang, geraam, ook in die huis van my buurman Hennie van Tonder -- kom uit die pen van die vermoorde skrywer en TV-persoonlikheid Pieter Pieterse. Vir hom is die Bosveld:
“'n Plek waar die son in die dag
skerper is as op enige ander plek,
en die sterre elke nag nader aan
die aarde lyk as wat jy kan onthou.
'n Plek waarna jy altyd met
'n klein stukkie vreugde en 'n klein
stukkie hartseer sal verlang --
'n verlange wat dringender word,
wat jou hartklop self word”.
Hierdie fragment uit sy boek Boude en Blaaie is van Pieterse se mooiste skryfwerk. Wat die intensiteit van die son, die nabyheid van die sterre en die hunkering in die hart betref, kon dit net sowel in Sabiepark oor Sabiepark geskryf gewees het. Maar Pieterse se Bosveldse Shangri-la was nie in Sabiepark nie. Ironies genoeg, was dit in die “kompetisie”, Marlothpark, aan die Krokodilrivier tussen Malelane en Krokodilbrug. Dit is daar waar dié romantiese storieman tragies deel van Suid-Afrika se moordstatistiek geword het.
Om Marlothpark die “kompetisie” te noem, is seker nie honderd persent korrek nie. Die basiese konsep is wel eenders. Groot verskille kom egter ook voor. Marlothpark is heelwat groter as Sabiepark. Dit is wel ook net oorkant ‘n rivier van die Krugerpark maar nie so teenaan ‘n hek nie. Toegang kan nie so streng beheer word nie weens ‘n openbare pad wat dwarsdeur sny. Dit is baie meer gekommersialiseerd, met gastehuise, winkels en selfs eiendomsagentskappe. Albei parke het hul vurige en lojale liefhebbers. Ek is vanselfsprekend ‘n rotsvaste Sabieparker wat vir geen geld ter wêreld sal ruil nie. Maar ek aanvaar in Marlothpark woon mense wat ewe gek na hul plek is.
Vervolg ...


