Hartkos
Die 2001-almanak van die mond- en voetskilders bêre ek nou al ‘n paar jaar in Tarlehoet. By ‘n mondskildery van T. Webster is ‘n anonieme aanhaling wat my telkens tref. “In elke vorm van die natuur is ‘n klank. Luister net met jou hart.”
Die Bosveld is ‘n plek waar jy só moet luister. Met jou hart. Elke seisoen. Enige tyd van die dag of nag. Die wild, die voëllewe; die bome, bome, bome; die digte oewerbos langs van Suid-Afrika se mooiste riviere – hierdie sierade praat met jou in ‘n taal wat soet op jou ore val. Vir party mense is dit voldoende om net te luister. Ander word gedring om te reageer. Hulle brand om hul betowering skeppend uit te stort. Dan bring skilders hul kwaste te voorskyn. Versiemakers werskaf met woorde. Skrywers put uit die geil aarde inspirasie. Fotograwe vind elke dag nuwe temas en motiewe.
In Tarlehoet en in vriende se boshuise weerspieël ‘n verskeidenheid skilderye, sketse, foto’s in rame, foto-albums en ‘n verskeidenheid plak-, skets-, dag- en besoekersboeke die vernuf en skeppendheid van mense wat deur Sabiepark aan die hart gegryp is. Mense wat in woord of beeld hul belewenis wou weergee. Tussen ‘n duisternis dierefoto’s teen Tarlehoet se mure hang onder meer twee skilderye. Een is Johan Coetzer van die Bottega-galery op Oudtshoorn se nagapie in die volmaan. Die tweede is ‘n goed gekamoefleerde luiperd van Elize Genis van Windhoek. Die byskrif is: “Was hy daar?” Albei was geskenke vir my sestigste verjaardag op 3 Januarie 2001, en is deur Sabiepark geïnspireer.
Johan se kunswerk is die resultaat van ‘n koffiekuiertjie op 8 Julie 1999 op Tarlehoet se stoep. In ons besoekersboek het hy en Alet geskryf: “Dankie vir die lekker koffie. Hoop ons is volgende keer betyds vir die nagapies.” Agttien maande later kom die pakkie met “breekbaar” daarop gestempel toe onverwags in die pos. Elize het op haar beurt haar geskenkie geskilder na aanleiding van ons vertelling oor die onverwagse eerste opwagting van ‘n luiperd by ons nuwe kuierplek toe ons sulke opsienbarende kuiertjies nog hoegenaamd nie te wagte was nie.
Allerlei “boskunstenaars” kry jy van tyd tot tyd met hul doeke en esels, veral langs die wandelpad en by die piekniekplek. Met twee het ons paaie op ‘n spesiale manier gekruis: Lordick Sibuyi en Frederick Nel. Ons lig ons safarihoede (met die tarentaalvere) hoog vir albei die vasbyters se toewyding.
Lordick was lid van die wagpatrollie, die sogenaamde Guwela, wat Sabiepark elke dag met valkoë deurkruis. Maar in een opsig was hy anders as sy Guwela-makkers: wat hy bedags waarneem, het hy saans by ‘n flikkerende kersliggie gaan teken op enige stuk wit papier waarop hy sy hande kon lê. Die onblusbare Lordick het my op ‘n dag voorgekeer om ‘n pak los papiere met sketse in my hand te druk. Ek het gedink sy skeppings is oulik. Die positiewe lewenswaardes en bewaringslesse wat hy met die boodskappe by sy prentjies wou uitdra -- hy noem dit “scriptures” -- het my geïmponeer. Ek en Tokkie gee toe vir hom ‘n sketsboek en stel kleurpotlode present. Hy het kom dankie sê met ‘n paar nuwe sketse spesiaal vir sy weldoeners.
My joernalistieke belangstelling was dadelik geprikkel. Ek stuur toe vir die natuurlewe-TV-program 50/50, vir M-Net se Kyknet en die Sondagblad City Press van die sketse, en wonder hardop of die skilder in ‘n Guwela-uniform nie vir hulle ‘n goeie storie sou maak nie. Kom loop gerus saam met Lordick in die bos, het ek genooi. Wys dan vir jul kykers of lesers hoe die natuurkind sy indrukke met ‘n varse oorspronklikheid weergee. Klaarblyklik het ek nie hard en doeltreffend genoeg “bemark” nie. Dalk was Lordick se sketse nie heeltemal só knap soos ek, weens die bos-“broederskap” moontlik ietwat bevooroordeeld, geoordeel het nie. Ek het nooit enige antwoord ontvang nie. Die sketse het ook nie teruggekom nie.
Toe ons weer vir ‘n vakansie aankom, was Lordick se skitterende wittand-glimlag nie daar om ons te verwelkom nie. Hy het een aand by die kampong te sorgvry gekuier, is ek meegedeel. Later het hy ‘n vuurwapen uitgepluk en gevaarlik rondgeswaai. Hy het sy werk verloor en het vir alle praktiese doeleindes van die aardbol verdwyn. Eers in Mei 2004, ‘n hele paar jaar later, hoor ek weer van hom. Uit Ximhungwe by Pretoria daag ‘n brief op. Op die koevert is ‘n kreatiewe samestelling van ons Sabieparkse en ‘n vorige Kaapse adres. Dat dit my hier op Melkbos bereik het, is ‘n wonder. Die netjiese blokletter-brief is onderteken Lordick P. Sibuyi.
Lordick deel mee dat hy steeds skets en skryf, en nog altyd daarvan droom om sy werk gepubliseer te kry. Sy liefde vir die natuur wil hy graag tuisbring aan diegene wat dit verwoes. Hy noem hulle diegene “wat net aan geld dink as hulle ‘n leeu sien en aan vleis as hulle ‘n duiker raakloop”. Om die pot aan die kook te hou, doen hy ‘n werk wat, in sy woorde, sy skeppende gees versmoor. Hy sê nie wat dit is nie, maar meld wel dat hy ‘n paramediese kursus geslaag het. Sy slotboodskap is tipies van die man wat ek in Sabiepark leer ken het: “Nature is good. Conserve what God has given.”
Vervolg...


