Hart van 'n boer
Einde Februarie 2003 waarsku Zeller in die nuusbrief: weiding raak ‘n probleem. Die gras is min. Die wild is darem nog in ‘n goeie kondisie. Maar opnames toon die veldtoestand is nou, in die middel van die somer, swakker as in die middel van die vorige winter. Hooi, lusern, wildkorrels en melasse word op twaalf voerplekke om die beurt as aanvullende voeding uitgesit. ‘n Langtermyn-oplossing is dit egter nie. ‘n Vermindering van die wild lyk onvermydelik...
In Mei raak dinge benard. Feitlik geen gras vir weiding is meer oor nie. Na vele volop jare is die droogte terug. Met ‘n ystergreep. Weens slegs 60% van die jaarlikse reënval en sy heelwat wild begin Sabiepark wurg. Altesaam 27 sebras, 18 blouwildebeeste en 72 rooibokke word gevang en verkoop. Vyftien rooibokke word uitgeskiet. Sabiepark val egter in die “rooilyn”-gebied. Afsetgebiede is beperk. Noodgedwonge moet die wild oor die “rooilyn” verkoop word. Omdat wild dan vir twee weke in kwarantyn gehou moet word, is pryse laer. Ook die Sabierivier se vlak sak onheilspellend. Dieper kanale word dringend gegrawe. Eienaars word versoek om nie ‘n druppel te mors nie.
Die lelike gesig van droogte in Sabiepark was vir my tot in daardie stadium vasgevang in ‘n kort sekwens van beelde op die video wat my oorrompel het om Tarlehoet te koop. ‘n Koedoe, só maer dat elke ribbebeen wys, verskyn daarop. In die vorige kwaai droogte van 1992 waggel hy nader om ‘n geelwortel op die muur van Ukuthula se swembadjie te kom vat. Op hierdie harde werklikheid was ek egter onvoorbereid. Toe ons op Sondag 22 Junie deur die hek ry, in Maroelalaan regs draai en in Wildevy weer links (die alternatiewe roete na ons huis) rep nòg ek nóg Tokkie ‘n woord. Eers toe ons onder die maroela langs die huis stilhou, verbreek sy die stilte. Ek hoor haar mond is droog. “Hier’s dan niks gras nie,” kom dit. “Nee,” beaam ek, “hier’s niks.” Niks. Soos in regtig niks. Net kaal grond so ver ‘n mens kyk.
Gelukkig het die bome nog heelwat blare. Die kameelperde, koedoes en die rooibokkies kom reg. Maar die arme sebras en blou wildebeeste draai net lusteloos, met lang gesigte om die voerpunte. Die paadjies daarheen is stofgetrap. Ook in Wildevy, naby ons huis, is ‘n voerpunt. Ons hoor die trekker gereeld met ‘n vrag hooi verbykom. Soms stap ons daarheen en staan en kyk as die sebras en wildebeeste hul koppe laat sak om te eet. Dit is al plek waar ons hulle hierdie vakansie sal sien. Een sebravul lyk veral kroes. Hy staan net so eenkant met 'n kop wat hang. Die oë lyk dof. Die volgende dag, kry ons hom in die middel van Wildevy. Hy sukkel behoorlik om uit die pad te kom. Ons weet nie of dit droogte se skuld is nie, maar ons wonder hardop of hy dit gaan maak.
'n Paar koedoes lê een oggend op die grens tussen ons en die Van Tonders. Vir hulle het die bome nog genoeg kos aan en hul kondisie is nie sleg nie. Hulle spaar tog energie, meen Tokkie. Want die wind waai en waai. Die blare sif neer. Dit beklemtoon somber hoe droog Sabiepark werklik is. Dalk voel die koedoes 'n bietjie moedeloos, dink ek. Soos ons.
Die laaste Sondag van ons vakansie ry ons oudergewoonte Skukuza toe vir die erediens. Ek stop om brandstof in te gooi. Hakuna mabula, sê ek vir die joggie -- “daar’s nie reën nie”. Hakuna mabula, antwoord hy instemmend. Vir ‘n oomblik is ons in bedruktheid verenig. In die Skukuzakerk laat ds. Carl Louwrens ons Lied 516 sing. Dis 'n beryming van Habakuk 3: 17 - 19:
Al sou dan ook die vyeboom nie bot nie,
Al sou die wingerd sonder druiwe staan;
Die graan verdor,
Die vrugtebome wegkwyn,
Die beeste, kleinvee, alles hier vergaan --
Nog sal ek juig en bly wees in my God!
Hy is my hulp,
Hy gee my krag,
Hy laat my loop waar rats die ribbok gaan;
Hy laat my vas en veilig staan!
Dié woorde gryp ‘n mens aan die hart. Dit versterk en bemoedig. Ek dink terug aan daardie Sondag na die Groot Vloed. Kerkbode. Charles Fryer se besielende stuk oor die bome wat weer sal bot. Dankie Vader vir so ‘n anker soos hierdie gemeente vir ons geword het, bid ek. Dankie vir die NG gemeente Krugerpark.
Op 5 September val ‘n stewige eerste lentebui, altesaam 35 mm. Op 13 September reën dit weer ‘n bietjie. Die syfer vir die maand klim tot 44,5 mm. Oktober lewer nog 20,3 mm. Maar November en Desember bak die son meedoënloos. En die totale reënval vir die seisoen staan die einde van die jaar op ‘n skrale 122,3 mm (net 22% van die gemiddelde vir die periode). Die droogte is nog ver van gebreek. Die eerste rooibok kom weer baie laat aan. Net een wildebeeskalfie maak sy opwagting, maar vrek gou weens die strestoestande. ‘n Baba-kameelperd is ook dood. Sy kondisie het erg verswak -- ‘n sagte teiken vir ‘n luiperd.
Toe, in Januarie en Februarie, gaan die hemele oop. ‘n Reddende 176,4 mm stort neer in Januarie en 319,3 mm in Februarie. Dis reënmaande soos min. Gereelde goeie buie sak uit. Tot in Julie. Die totale neerslag vir die seisoen skiet op tot by 800 mm, die beste sedert die vloed van 1999/2000 en die naasbeste jaar sedert 1995/1996. Die reëngrafiek staan op 34% oor die gemiddelde vir die seisoen.
In een nag, die nag van 23 Februarie, reën dit veral katte en honde. Altesaam 200 mm giet in die nagtelike ure op die aarde neer. Die waters loop en loop weer. Ons paaie is erg verspoel. Maar dit is die keerpunt. Sabiepark se “boere” vryf ingenome die nat grond tussen hul voorvingers, en dank die Here vir die uitkoms.


