Hart van 'n boer
En, ja, die bome bot werklik weer toe ons in Februarie 2001, ‘n jaar na die vloed, Sabiepark se hek inry. ‘n Groener, ruiger, verrukliker paradys begroet ons as selfs in Maart 2000, net na die groot reëns. By Tarlehoet raak die lapa en die watergat skoon weg in die gras. Die indraaipad is 'n groen tonnel. Maar die hele bos skitter. Die plek is oortrek met blomme. Klimop -- morning glory en ander -- reik tot aan die toppe van die hoogste bome. Die kakiebos staan Tokkie-hoogte en hoër. Sampioene slaan oral uit, in skadukolle en in boomtakke wat oor die bruisende rivier hang. Al hoe meer vloedwonde is nou al hartverblydend gekamoefleer. Die piekniekplek waaroor ek so verdrietig was, het ‘n metamorfose ondergaan. Baie van die lelike opdrifsels lê weggesteek onder ‘n kombers van nuwe lewe. Die verwoesting het ‘n sagter aanskyn gekry. ‘n Mens kan weer laatmiddae met ‘n glasie wyn langs die rivier gaan sit sonder om jou die hele tyd oor sy verlore glorie te verknies. Selfs die seekoeie is terug.
‘n Mens verlustig jou aan die oorvloed. Droogte, waar is jou angel? So wil jy amper oormoedig uitroep. Maar jy onderdruk die impuls. Want jy weet, ja, diep in jou hart weet jy ... geen voorspoed duur vir ewig nie. Swaar tye sal weer kom. Uitmergelende droogtes. Ander ellendes…
Droogtes is seker ‘n boer se grootste nagmerrie. Maar ‘n bose boel ander bekommernisse laat hom snags rondrol. Soos vrees vir veldbrande. Elke seisoen word groter stukke aarde verskroei. Ook in die Wildtuin. Dié hartland word in September 2001 deur die ergste brandramp in sy geskiedenis getref. En sy buurman beleef dit intens. Die gloed op die horison; die voortrollende vlamme oorkant die rivier; die digte rookkombers en die smorende rookreuk bring die boodskap tot in elke Sabiepark-huis dat ‘n enorme natuurtragedie hom oorkant die rivier afspeel. Nie net 23 mense by Pretoriuskop nie, maar honderde grootwild, ontelbare kleinwild en onvervangbare plantegroei word uitgewis. Minstens twee keer in hierdie seisoen van verwoesting kruip die skrik tot in Sabieparkers se harte.
Op 5 September, die dag na die Pretoriuskop-inferno, rol die vuur noord- en weswaarts tot teenaan die Sabierivier. Dit knetter deur die bondels vloedopdrifsels en omgekantelde bome. Die wind waai hard uit die suide. Vlamme lek-lek oor die rivier na die kurkdroë wintergras. Verterende vlamme dreig om tussen die Krugerhek en die piekniekplek oor die rivier te spring. Sabiepark se parate brandspanne word ontplooi. Gelukkig bedaar die vlamme, en die volgende dag spring die Wildtuin self in om voorbrande teen die hele oewer te brand. Drie weermaghelikopters pik om die beurt by die piekniekplek water uit die rivier op om dit ‘n paar kilometer verder oor die brandende veld uit te stort. Ek en Tokkie is onder die handjie vol verslae toeskouers.
Maandagmiddag 10 September word die gevaar nog groter. ‘n Wegholbrand word deur hoofindoena Eckson Mathebula en ander op die naasliggende landgoed Lisbon opgemerk. Die vlamme word deur ‘n sterk wind ooswaarts aangedryf. Die brandalarm word geaktiveer. Die brandspan -- alle beskikbare personeel, ook vroue -- reageer vinnig. ‘n Hewige stryd begin. Vyf spannende ure later is die stryd gewonne. So lyk dit altans. Twee bemande brandweerwaens word nietemin in Jakkalsbessie- en Worsboomlane gelos om sake dop te hou.
Laataand vlam die vuur weer op weens ‘n smeulende stomp wat in ‘n klipskeur beland het. Die brandweerspan moet weer inspring. Die volgende oggend om 05:30 sien George Lourens vir Zeller en twee helpers met waterkanne oor die damwal oorkant sy huis hardloop. Weer eens moet hulle spook teen vlamme wat verseg om te gaan lê. Dit was benoude oomblikke, sê Lourens. “Die brandspan het Sabiepark van ‘n gewisse ramp gered.” Ons ander verstaan alte goed wat hy bedoel. As ‘n brand eers tussen daardie see van grasdakke koers kry, hoe stuit ‘n mens dit? Boonop het elke huis ‘n gassilinder of twee. Jy sidder oor die potensiële verwoesting as daardie “bomme” die een na die ander sou ontplof.
Toe die brande uiteindelik bedaar, is lente ophande. Die goudgeel sambokpeul, wit drolpeer (“amandelboom, jou lentebruid…”), en bloedrooi worsboom is in volle blom toe ons Tarlehoet middel September toesluit vir die terugtog. Die eerste knoppiesdorings en koraalbome staan ook al plek-plek in lentedrag. Oral om Sabiepark is egter swart verbrande lappe aarde wat smag na water. In die Wildtuin is gunsteling-paaie soos die Doispanepad en die S3 gesluit. Rondom hulle is die brandskade enorm. Die lug word angstig dopgehou vir reën.
September lewer net ‘n paar druppels op. Eers in Oktober wyk die brandgevaar toe ‘n welkome 32.2 millimeter uitsak. Goeie opvolgreën van 142 mm volg in November. Amper oornag word Sabiepark (sowel as sy bure) weer groen. Somer keer terug in al sy lustige kleure, geluide en tekens van nuwe lewe. Die eienaars kan weer asemhaal. Junie, Julie en Augustus, die gewone kort winter van die Laeveld, kom en gaan. Dit is die seisoen van sterk winde wat die bome laag buig. Nog ‘n El Nino is op pad, begin die weerkenners waarsku. Dit beteken onder-normale reën kan verwag word oor die noordoostelike streke van Suid-Afrika. ‘n Ongunstige begin van die somer-reënval is op die kaarte. Dis ons kontrei daardie. Jou “boerehart” raak weer onrustig.
In 2001 het die eerste rooibok-lammertjie al op 11 November in Sabiepark aangekom. In 2002 is dit ‘n ander storie. Die tweede week in November kom en gaan. Nog ‘n week gaan verby. Geen lammertjie is in sig nie. Dis die min reën, sê sommige. Die ooitjies hou geboorte terug. Nee, sê die kenners. Dit kan nie gebeur nie. Dat ooitjies hul kinders kan terughou, is ‘n mite. Tog: waar bly die reën dan? En die nuwe oes rooibokkies? Die veld raak droog en dor. Desember se reënval van 52 mm, Januarie s’n van 51 mm. en Februarie s’n van 30 mm. vergelyk swak met die 246 mm. oor dieselfde tydperk in 2002. Die son bak genadeloos op die aarde neer. Dag vir dag. Xo hisa, sê die Sjangaans. Dis “verstikkend warm”.
Vervolg...


