Hart van 'n boer

Ek en Tokkie draai op Maandag 13 Maart met angstige harte by Sabiepark se hek in. Die brûe oor die Noord-Sand- en die Saringwarivier was pas klaar gelap en kon darem weer stadige verkeer dra. Die pad tussen Hazyview en die Krugerhek is net 'n dag tevore oopgestel. Aan die vernielde brug oor die Sabierivier is volstoom gewerk. Dit sou egter geruime tyd duur voordat die verkeer weer kon vloei. Jy voel tog verligting as jy stadig in Apiesdoringlaan afdraai, en dan regs in Wildevy. So mooi ken jy die veld nie -- met lappe groen gras wat in die wind wieg, en die droogste takke van die droogste bome getooi in 'n sagte lowergroen. By Tarlehoet staan die naambord nog stewig, omring deur 'n blarekrans. Die verspoelde inrypad bring ook 'n boodskap: dat baie en sterk waters daar verby is. Groot gate is in die pad oopgeruk. Die nuwe Honda CR-V kry sy eerste vuurdoop (vier-by-vier-doop!) Maar die huis staan onaangetas. Ryke genade!

Die ramp kry werklik ‘n skokeffek toe ons die volgende oggend by die piekniekplek instap. 'n Yslike ontnugtering wag. Die onderste terras is platgevee. Antieke bome het die stryd verloor. Opdrifsels bondel soos versamelneste. ‘n Gedugte Natalse essenhout, ‘n groot jakkalsbessie en ‘n pragtige huilboerboon het gelukkig darem behoue gebly. Ook maar net. Ek soek na die eilandjie waarop ek laas my mooi “ballerina”-foto van die olifant geneem het. Dis weg. Die stukkies hout van die trapbruggie lê seker iewers onder Mosambiek se nuwe "mere". Kruiptrekkers en boomsae dreun hier om die vloedrommel op te ruim. Uit die puin word stadigaan 'n nuwe piekniekplek herskep.

Van die skilderagtige wandelpad het feitlik niks oorgebly nie. Net sandbanke, slik, stukke van bome, stamme, takke en hope, hope opdrifsels. Dié lê gestrooi soos gebleikte geraamtes. Aan weerskante van die Sabierivier is twee breë strepe groen eenvoudig platgevee. Die rivier, voorheen versteek agter sy digte massa bome en plante, vloei nou wawyd oop hier voor jou. Jy kyk oor die rivier ver en diep die Wildtuin in, tot oor die rivierpad. Jy sien twee olifante en ‘n klompie bosbokkies. Jy sien ook die Krugerbrug oop en bloot, en selfs die beeld van Oom Paul, wat in die vloed net-net kop bo water kon hou. Maar die fotogeniese sagtheid van die toneel is weg. Jy kyk vas teen ‘n harde, bar, onvriendelike landskap.

Om by die oorstroomde oewerhuise van vriende soos Jan en Dalene de Necker en Ronnie en Elma Schoombie te kom, moet jy voetjie-vir voetjie deur die donker modder 'n weg baan. Dis soos makabere oorlogtonele wat hulle voor jou ontvou. Vuil gordyne wapper deur die stukkende ruite. Patetiese hopies meubels, beddegoed en kombuisware staan rond. Yskaste, stowe, baddens en wasbakke is met dik bruin modder oordek. Hoog teen die smerige mure streep die vloedmerk. Buite lê die flenters van kombuis- en kamerkaste van saamgeperste hout, stukkende fotorame, koppies en borde. In die boomtakke sit stoelkussings vas.

Op pad terug Tarlehoet toe moet ons drafstap en kameras vinnig voor by ons hemde indruk toe opnuut ‘n bui uitsak. Sabiepark was fluks op pad na 1 000 millimeter sedert Januarie! Toe ons bed toe gaan, lees ons by kerslig in Johan Cilliers se Bybelse dagboek Die dag is vol genade by 14 Maart se stuk die volgende toepaslike gebed: "Jesus, dankie dat U nie by die wrakstukke langs die pad verbystap nie, maar dit herskep. Ook vir my.” Treffend! Ons val in die pad terug Kaap toe, diep onder die indruk van die ontsaglike skade. Maar ook met dankbaarheid dat ons die veld so in sy somerglorie kon sien. Die jong jakkalsbessie by die voorstoep wat so vinnig opskiet dat sy naamplaatjie afspring. Die ryp maroelas wat vroeg begin val. Ons harte klop warm vir Sabiepark se mense, ons mense, wat hulle nie laat onderkry nie.

Vroeg in Junie is ons terug. Ons brand om Sabiepark na drie maande weer te sien. En ja, ons skep verder moed. Want harde werk, kreatiwiteit en die natuur se eie genesingskrag het die ergste littekens al ietwat verberg. Nuwe braaiplekke word gemessel. Die nuwe grasperk kom aan. Nuwe bome word geplant. Die veld is steeds pragtig en die wild moddervet. Die somer-reënval staan nou reeds op meer as 1 280 mm, 'n rekord der rekords. Dis 225% bo die jaarlikse gemiddelde. Spesiale vreugdes is al die nuwe aankomelinge, onder meer twee mini-kameelperdjies (sulke kortgat langnekkies!), die een nog met ‘n titteltjie naelstring wat onder sy maag hang.

Maar ai, die ou groen piekniekplek met sy reusebome, eilandjie, seekoeigat en onvervangbare wandelpad had darem 'n spesiale plekkie in die hart. Daardie hart bloei, saam met dié van die Nederlandse vrou wat daar instap, haar kierie 'n paar keer heen-en-weer swaai, in ongeloof net die kop bly skud, en met nadruk herhaal: "Als is weg! Als is weg!” Maar my vrou raak ergerlik as ek terneergedruk bly tob. “Ag nee man, ruk jou reg,” por sy my aan. Sy wys vir my die eerste groen skynsel wat vol belofte tussen die boomgeraamtes by die piekniekplek begin sigbaar raak: die riete wat op die sandbanke in die rivier opslaan, selfs stompe wat ambisieus begin uitspruit. Sy vestig ook die aandag op drie visvangers wat soos vanouds oor die water swiep, en 'n seekoei in die water. Sabiepark se bome en bosse is inderdaad in die middel van die winter vol nuwe groen blaartjies, soos in 'n vroeë lente. Dis die resultaat van goeie opvolgreën. Tokkie sien selfs 'n groot “karkoer” in die veld. Nadere ondersoek wys dit is 'n klip wat met mos bedek is -- en dit in die Bosveld!

By Skukuza se kerk kry ons die laaste Sondag van ons vakansie 'n Kerkbode met 'n pragtige stuk deur die boekeman Charles Fryer. Om deesdae 'n koerant in Suid-Afrika te lees, is 'n kortpad na wanhoop, skryf die ou vriend. Hy motiveer met 'n inventaris van die ergste liederlikhede in die nuus van daardie tyd: kinders, selfs babas, word verkrag, skoolkinders word deur bendes afgemaai, barmhartige samaritane boet vir hul offervaardigheid met hul lewens... Maar Fryer is nie soos een sonder hoop nie. Hy vind troos in die volharding van geloofsoorwinnaars deur die eeue; ook dié wat vandag nog tussen ons wandel. So ‘n geloofsoorwinnaar is ‘n predikante-vriend van hom oor wie se gesondheid 'n donker skaduwee val. Dié se geloof en geesdrif vir die evangelie brand egter net sterker. "Gesond is ek nie,” het hy vir Fryer gesê, “maar ek is heel."

Fryer se gevolgtrekking: “Die goue gloed van hoop glim tog deur die donker op donker van koerantnuus." Hy haal ook die bejaarde skilder Robert Hodgins aan: "Dit is wonderlik om te lewe. Die bome gaan bot, al is ons omring deur rampe." Die bome gaan weer bot, al is ons omring deur rampe. Watter heerlike sekerheid om in jou hart te hê as jy agter die stuurwiel inskuif vir die terugtog.

Vervolg...