Hart van 'n boer

Een hektaar grond is skaars groot genoeg vir ‘n mooi lap mielies. Dis bitterlik ver verwyder van ‘n plaas. Vir die naam boer kwalifiseer ‘n Sabiepark-eienaar net so min. ‘n Groot gros, dalk die meeste, se hande is sag, nie hard en skurf soos dié van ‘n boer nie. Maar diep binne-in? Dit is boereharte wat ‘n mens daar hoor klop. Soos ‘n boer leer ken elkeen ook die volle register van emosies wat die weer kan ontketen. Die wisselvalligheid leer nederigheid en afhanklikheid.

Sabiepark is 30 jaar gelede gestig. In drie dekades het die geliefde land uiterstes leer ken. In 1983, 1989, 1992, 1994 en 2003 was hy kurkdroog. Die veld was kaal. Diere moes maande lank gevoer word. Ander jare kreun hy weer onder die reën. Soos in 1993, 1996 en Februarie 2000. ‘n Wilde Sabierivier het toe hand-uit geruk en minagtend oor vorige vloedlyne gebars. Tussenin lê goeie jare. Soms selfs jare van oorvloed wat die hart laat sing. Want na goeie reën is Sabiepark 'n lushof, 'n bosparadys. Dan reik die rankplanke tot in die bome se toppe, en bedek dit plek-plek oewerhuise se dakke.

Die laaste en ergste vloed was in die jaar 2000. Maandag 7 Februarie 2000 -- dit was die onheilsdag. Die Sabierivier het rasend geraak. Sabiepark is in ‘n ommesientjie van die buitewêreld afgesny. Vyftien huise is deur die vloedwater ingesluk. Die piekniekplek is verwoes. Die wandelpad is van die aarde gevee. In die vroeë oggendure het die watermassa onheilspellend begin opbou. Om 08:00 is die vloedvlakmerk van 1996, die vorige rekord, verbygesteek. Om 08:15 vlam hoop op dat die ergste verby is. Toe om 10:15 kom 'n tweede, magtiger vloedgolf. In vyf hartvashou-ure bly die bruin watermuur meedoënloos styg: een meter, 1,5 meter… twee meter… drie meter! Om 11:00 is die piekniekplek ‘n see. Die water stoot deur die hek tot in die parkeerterrein op. Die keerwal word meegesleur. Reusebome knak en kantel soos vuurhoutjies. Die waterwerke, keerwal en wildheining verdwyn stuk vir stuk stroomaf.

In die park heers onbeskryflike chaos. Driffies het onstuimige riviere geword. Paaie is onbegaanbaar. Teen 12:00 is die dakke van oewerhuise soos klein eiland-spikkeltjies bo die malende, dreunende water. Vensters en deure swig. Modderwater spoel tot plafonhoogte deur huise. Meubels word meegesleur.

“Auk, die water hy kom, hy kom. Hy loop, hy lóóp.” Die kostelike beskrywing van die waterwoede deur ‘n afgetrede veldwagter, ou Willie, het mense later laat glimlag. Maar, let wel, dit was agterna. Midde-in die vloed was nie vir glimlag tyd nie. Toe was dit doodsake.

Die wildfotograaf David Hughes (erf 266, uit Wildevylaan) en sy vrou, Carol, is onder diegene wat dit intens beleef. Een oomblik probeer hulle nog waardevolle kameras en toerusting uit die gevaargebied wegskuif. Die volgende dryf hul vrieskas, rusbanke, boeke, tafels, potte, panne en breekgoed rondom hulle. Die twee moet paniekerig in hul eie woonkamer rondswem om foto-albums en dosyne kartondose met onvervangbare films te red. Aan een film, oor ratels, het hulle drie jaar lank in die Kalahari gewerk. Gou lek die water op die onderste verdieping aan die bokant van deurkosyne. Die hele huis is nagdonker. Om vasgekeer te word, raak ‘n wesenlike risiko. Die geskokte paar het geen keuse nie. Hulle moet alles net los en teen die trappe na die bodek opkruip. Van daar af is die omvang van hul penarie pynlik duidelik. Omtrent 70 meter vinnig vloeiende water, plek-plek twee meter diep, is tussen hul huis en veiligheid. Slegs ‘n uitstekende swemmer sou dit daarin kon waag.

David Zeller ontbied ‘n helikopter om die gestrande egpaar van hul dak af op te pik. Twee helikopters daag op, maar die grasdak is te steil om ‘n landing te waag. Weerskante van die dak is boonop weerligafleiers. Die rotors woer-woer ‘n paar oomblikke bo Hughes-hulle. Toe wuif die vlieëniers … en vlieg verder. Zeller en sy span moet noodgedwonge met toue -- en die egpaar se wasgoeddraad! -- self die onstuimige waters aandurf. Omring deur verbysnellende boomstompe word soos Trojane gespook om die vasgekeerdes, vol skrape en kneusings, een vir een na veiligheid te bring.

Die volgende dag het die water gesak, genoeg dat die egpaar inspeksie kon gaan doen. Dit is nie ‘n mooi gesig nie. Baie besittings is weg. Dit is meegesleur toe die deure en vensters geswig het. Dokumente, foto’s en bates wat oor ‘n leeftyd versamel is, het honderde meter stroomaf teen bome en bosse vasgespoel. Wat oorgebly het, is amper alles onder kniediep modder begrawe Duur kameras is erg beskadig. Maar wonder bo wonder: die dun kartondose vol film is so droog soos die dag toe dit uit die Kalahari weg is!

Sabiepark self is dae lank volledig van die buitewêreld afgesny -- geen toegang per pad nie, geen telefoon of selfoonsein nie, geen elektriese krag in die kantore nie. 'n Angstige wagtyd, terwyl jy as eienaar wonder, raai en vrees hoe erg jou geliefde bostoevlug getref is. Presies 'n week na V-dag, op Maandag 14 Februarie 2000, is Sabiepark se fakslyn herstel. Drie dae later bereik 'n faksboodskap van Zeller eienaars. Die opskrif: Vloedramp -- Februarie 2000. Die nuus is nie gerusstellend nie: Sabiepark was "te midde (van) die rampspoedige wattermassa" en "geweldige skade" is aan die rivieroewer aangerig.

Maar 'n mens moes eers self in die park kom. Dan eers kan jy die omvang van daardie ongekende natuurramp werklik snap. Jy moet op die piekniekplek staan, of op die stoep van een van die oewerhuise met die modder en slik meters hoog rondom hulle; jy moet met jou eie oë die uitgestrekte toneel van genadelose verwoesting aanskou. Anders sou jou hart eenvoudig weier om te glo wat jy hoor.

Vervolg...