Artikels Van Sabiepark
Sharing one of the best kept secrets of the bush...
Hoekie van die hemel ...Sabiepark is ‘n wonder-like, onontdekte plek. Op pad Wildtuin toe, wonder verbygangers oor die yl verspreide grasdakhuise tussen die maroelas, jakkalsbessies, knoppiesdorings, blinkblaar-wag-'n-bietjies, huilboerbone en 'n norring ander van die plus-minus 400 soorte Bosveldbome regs van die pad.
Skukuza-Konneksie ... Een van die uniekhede van Sabiepark is hoe ‘n mens deur die Krugerhek die Wildtuin vinnig kan inzits vir sake of vir 'n erediens in die treffende koel kerkie met sy indrukwekkende koorsboom in Skukuza se netjiese personeeldorp.
Ontdekkings ... Laterig die aand van 1 Julie 1988 ry die Van Deventers die eerste keer deur Sabiepark se hek, besoekerspermit veilig in die sak. Toe ons onder die helder sterre soek-soek by erf nommer 97 uitkom, net mooi waar die strate Maroela en Wildevy mekaar ontmoet, spat slapende sebras en rooibokke in die gedompte motorligte uiteen.
Hartkos ... Die Bosveld is ‘n plek waar jy só moet luister. Met jou hart. Elke seisoen. Enige tyd van die dag of nag. Die wild, die voëllewe; die bome, bome, bome; die digte oewerbos langs van Suid-Afrika se mooiste riviere – hierdie sierade praat met jou in ‘n taal wat soet op jou ore val.
Strange encounters of a wild kind
Vat vyf! ... Numero uno van die Vyf Grotes bly vir die meeste mense ‘n leeu.Te meer so in 'n plek soos Sabiepark wat nie Vyf-Grotes-kontrei is (of behoort te wees!) nie. Die “koning van die diereryk” hoort allermins hierdie kant van die rivier. Vanselfsprekend.
Het jou! ... Luiperds is lief vir Sabiepark. Die volop wild is ideaal vir jag. Om hierdie keer gerat te wees vir ‘n foto, was ‘n missie. Dit het vir ons ‘n projek van die hart geword. Een met ‘n naam: Operasie L.
O..O..Oli fante! ... Vir die Wildtuin se olifante is nie net die gras oorkant die spreekwoordelike draad altyd groener nie. Ook die gras anderkant die rivier. Sabiepark se wandelpad trek grootvoete soos ‘n magneet. Hier verras hulle wandelaars gereeld, hul massiewe lywe donker-nat soos hulle deur die Sabierivier gewaad het.
Brul by die braai ... Loeriebos se watergat is 'n ronde sementdammetjie niks verder as tien meter van Dup se braaiplek nie.Die aand sit hy in die donker by sy braaiplek. Hy bepeins die dag se gebeurde en wag vir Minnie wat nog in die kombuis doenig is. Daarna wil hy 'n vuurtjie aansteek. Terwyl hy wag, hoor hy 'n harde geslurp. Daar's die vyf toe vlakby hom. Hulle drink gulsig by sy watergat. "Jy het net oë gesien," vertel hy baie ingenome, "grotes en kleintjies -- te pragtig."
Sonaanbidders ... Soos sonaanbidders op ‘n luilekker somervakansie lê hulle by die water. Eenkant die bonkige seekoeie soos tampans aan ‘n hoender met hul donker, plomp lywe op potsierlike stomp beentjies. ‘n Entjie verder die plat krokodille in eweredige skuins rye met hul lang, skerp snoete en growwe skubbe, soos brandhout met ‘n ruwe bas.
Spore in die sand ... Vars kussingspore omsirkel elke oggend jou huis. Spore lê ook kruis en dwars in die gruisstrate waarlangs jy vir ‘n eerste beker môrekoffie of stiltetyd in die natuur piekniekplek toe stap.Selfs die “kenners” kan ook maar die spoor byster raak wanneer hulle onderling oor dié onderwerp begin redekawel.
To know, know, know you is to love, love, love you...
Nok, Nok ... Nagapies is die eerste twee tot drie uur van die aand op hul aktiefste. Elke aand as die skemer daal, is hul bos-kabaret op die program. Maar jy raak nie moeg daarvoor nie. Alle oë bly op die pendoring vasgenael van die oomblik af dat die eerste klein rakker dit bereik, die wêreld ‘n ruk lank grootoog bespied en dan met ‘n plofgeluid op die tafel land.
Suiker vir 'n duiker ... Hy gryp 'n vingerdikte stok en druk dit in by die hoek van die slang se bek wat styf om die lammertjie se nek sluit.Toe gebeur 'n snaakse ding: die slang laat sy prooi skielik los. Dawie onthou op daardie oomblik sy ma se resep as iemand groot geskrik het. Bring gou suikerwater, vra hy. Annatjie roer vinnig 'n paar lepels suiker in 'n beker water en bring dit vir haar man.
Bringers of joy...
Kameraad Langeraat ... Terwyl ons die Sondagmiddag by Loeriebos op die herverskyning van die halsstarrige leeus wag, stap twee volwasse kameelperde stadig, doelgerig na die toneel van die vangs. Is dit dalk die pa en ma van die jong langnek-slagoffertjie in 'n finale vaarwel?
Swart op wit ... Sabiepark se embleem is ‘n sebrakop. Die kop pryk lewensgroot by die grasdak-hoofingang. Dit verskyn ook in swart op wit op elke stuk korrespondensie (en rekening!) uit daardie oord. Die park se sebras dink blykbaar die embleem verleen aan hulle ‘n spesiale status.
Tannemanne ... Ontmoet Pumba en Timone. Of Mo en Flo. Of sommer die Terrible Twins. Hierdie twee saamloper-vlakvarke was op hul dag groot gunstelinge in Sabiepark. Een en almal het name vir die tweestuks gehad, en was baie ingenome as hulle op hul kenmerkende drafstappie opdaag om op hul roetine-huisrondes ‘n bietjie verwen te word.
Reenboognasie ... Voëlkyk is nie vir sissies nie. Dit verg konsentrasie en vinnige koördinasie om die verkyker te gryp, die onderwerp van kop tot toon te bestudeer en deur ‘n proses van eliminasie blitsig by ‘n diagnostiese bevinding uit te kom. Om dan nog die duisternis name ook te probeer memoriseer -- party onlogies, ander die vrug van ‘n ryke verbeelding -- is ‘n reusetaak. Tussen al die bontrokke, bokmakieries, janfrederiks, katakoeroes, klopkloppies, lewerikke, lysters, sterretjies, valke en vinke raak ‘n gewone sterfling maklik verdwaald.
Soos 'n wildsbok ... Telkens as ‘n koedoebul op Tarlehoet se werf kom, is ek opnuut van harte dankbaar dat ek net met my kamera jag. Om ‘n koeël te jaag deur daardie edele kop met die kartelhorings wat so statig op die vorstelike nek sit, sou ek nooit oor my hart kry nie. Maar hierdie adellikste van die wildsbokke wat in Sabiepark te vinde is, verdien ook om historiese redes ‘n ereplek in die Van Deventer-annale.
Bosmafia ... Hul astrantheid en wetteloosheid stempel bobbejane as die mafia van die diereryk. In Sabiepark is ‘n vertakking met ‘n aggressiewe, mank mannetjie as godfather. Dié belhamel en sy 60, 70 plunderaars -- ‘n cosa nostra bos-tra soos min -- voer ‘n soort skrikbewind in ons andersins vreedsame, misdaadvrye park. Troppe sekelstert-stropers breek in agter kos aan en bemors huise.
Wild, weird and wonderful...
Die lewe in die bos ... ‘n Bielie van ‘n baard, verskeie variasies op die tema kakie-bosmondering en kieries met karakter. Dit is drie simbole van die bos wat dadelik toegang verleen tot die spesiale broederskap van bosmense -- ‘n sonderlinge spesie met die bos in hul bloed.
Slang in die gras (dak) ... Ten minste een ding sonder enige twyfel: hul vermoë om ‘n mens te verras, te ontstel, te skok of te irriteer, is meesal omgekeerd eweredig aan hul grootte. Anders gestel: wees maar op jou hoede vir allerlei klein goedjies wat in die bos rond kruip, kriewel, klouter of seil. Of hulle nou byt, steek, pik, knibbel of knaag, hulle kan jou laat bontstaan. Sommige, soos paddas, teister jou op ‘n subtieler manier. Hulle dreun jou ore van jou kop af met hul luidrugtige padda-indabas. Vir die drie vreeslike s’e, slang, skerpioen en spinnekop, het ek ‘n ingebore skuheid.
Hart van 'n boer ... Vir die naam boer kwalifiseer ‘n Sabiepark-eienaar net so min. ‘n Groot gros, dalk die meeste, se hande is sag, nie hard en skurf soos dié van ‘n boer nie. Maar diep binne-in? Dit is boereharte wat ‘n mens daar hoor klop. Soos ‘n boer leer ken elkeen ook die volle register van emosies wat die weer kan ontketen. Die wisselvalligheid leer nederigheid en afhanklikheid.
Vuurplesier ... Elke mens moet in sy lewe minstens een vuur maak wat onvergeetlik is; een monumentale brandstapel wat telkens voor die geestesoog opdoem wanneer met verskuldigde eerbied oor Groot Vure gepraat word. My eie vuur der vure was eintlik ’n spanpoging.


