Die lewe in die bos

Ware Sabieparkers respekteer die natuur. Hulle is beskermend teenoor alle vorme van lewe in die bos. Hulle handhaaf ‘n etiek van leef en laat leef teenoor al hul bure, mens én dier. Hulle vermy lawaai, ry stadig en loop suutjies. ‘n Klein minderheid (dikwels gaste van afwesige eienaars) is raserig , ongeduldig en onbedagsaam. Hulle is die soort wat bome breek, plante pluk, diere koggel en voorwerpe in die rivier gooi. Een het 'n verbaasde seekoei met bierblikke bestook. ‘n Groep jong manne het na ‘n paar doppe hul broeke laat sak en hul agterwêrelde vir verbaasde Wildtuinbesoekers oorkant die rivier geswaai. ‘n Egpaar het selfs hul baba in 'n drabedjie tussen 'n trop nuuskierige apies aan sy genade oorgelaat, en voetjie-vir-voetjie, klip-vir-klip die rivier ingevaar om in die middel, tussen die krokodille en ander gevaartes, 'n dop te gaan steek. Homo sapiens -- die naam is nie oral en altyd vir almal van die spesie mens raak of van pas nie.

Van ware Sabieparkers ervaar jy ‘n grenslose hulpvaardigheid. Sukkel die Van Deventers byvoorbeeld om ‘n nuwe swembadseil op te sit, kan hulle met vrymoedigheid op Dawie Strydom van Rustig se knoppie druk. Hy kom, kort na ‘n knievervanging, met sy krukke en sy boor, en los die probleem al hinkende-pinkende gou-gou op. Gee jou vrieskas die gees, is daar net een genade: dit moet Nelspruit toe, wat oor die 100 kilometer ver is. Maar die ruimhartige Dawie bied dadelik sy bakkie aan.

(Gepraat van “ruimhartigheid”. Ou Sabieparkers onthou met meer as net ‘n tikkie bewondering een van die baanbrekers, die argitek Bert Osmonde, ‘n egte bon vivant wat op 71 nog altyd ‘n oog vir vroue gehad het. Taks om taks het hy ‘n ander “vriendin” saamgebring Sabiepark toe. Bert is aan ‘n hartaanval dood, en almal het gedink dis die regte manier vir so ‘n ou om dood te gaan: aan sy groot, oorwerkte hart!)

Maar terug na Sabieparkers nog in die lewe. En hul harte van goud. In hierdie kategorie verdien Kapous Mouton van Vreklekker ook ‘n ereplek. Ruk vernielsugtige bobbejane in jou afwesigheid jou stoepkas se deurtjies stukkend, kom dié ou staatmaker wie se hande vir niks verkeerd staan nie, op eie inisiatief om met tang en draad die skade te herstel. Soek jy deskundige hulp met die uitken van die bome op jou werf, kan jy gerus vir Xander de Jager (erf 247 in Gwarrieboslaan) inroep. Hy kom, vryf aan die blare, ruik aan die blomme, bevoel die sade. As hy klaar is, kan jy maar jou plaatjies by die Dendrologiese Vereniging in Pretoria bestel. Bak Piet Möhr van Net Reg die dag in sy buite-bakoond brood, kan sy vriende maar solank die botter en (maroela-) konfyt reghou.

Een oggend ontstaan ‘n krisis op Tarlehoet. Die buitekraan raak onbeheerbaar aan’t spuite. Ek spring in my voetuig en vat in wanhoop die pad op soek na hulp. Die eerste wat ek raakloop, is Frik Dreyer van Inibos (erf 62 uit Wildevylaan). Ek en die raakvat-boer van Frankfort was Tukkie-tydgenote. Later het die Afrikaner-broedertwis van die jare tagtig verwydering gebring. Hy nooi my nietemin gul na sy huis toe, leen vir my die nodige gereedskap en kom help selfs om die spuitende water onder beheer te bring. Só hervat ‘n vriendskap -- die strydpunte in die politiek van die “ou Suid-Afrika” vergeef en vergete. In Oktober 2003 sterf die wellewende Frik aan malaria kort na ‘n Septemberbesoek aan sy geliefde Sabiepark. ‘n Treurige dag, ook vir die Van Deventers. Gelukkig kon ons darem ‘n keer of twee 'n hond uit die bos kuier saam met Frik en Winnie, die vriende van Inibos. Die herinneringe is kosbaar.

Meer as net ou politieke verdelings swig voor hierdie bos-bonhomie. In 1999 beland Dawie Strydom in die hospitaal met hartprobleme. Na drie weke is hy terug in Sabiepark. Van die eerstes wat hom kom beterskap toewens, is van die swart personeel. Twee van hulle sit een aand op Dawie en Annatjie se uitnodiging saam aan in die Strydom-lapa. Sipho Lubisi, opsigter by die piekniekplek, vra of hy vir die Hemelse Vader vir die lekker kos dankie mag sê. Elvis Khosa, destydse swembad-opsigter, haal daarop sy sakboekie uit en vra of hy sy dagstukkie met die Strydoms kan deel. Dawie gaan ‘n Tsonga-Bybel haal. Terwyl Elvis daaruit lees, volg Dawie in sy eie Bybel: ‘n stukkie uit Psalms en uit Korintiërs. Dawie was aangedaan toe hy mede-Sabieparkers op ‘n jaarvergadering oor daardie saambindende stiltetyd inlig.

In Augustus 2003 was ek en Dawie by Antonie Roux van Rouxkeloos (erf 27 in Maroelalaan). Die motor-neuronsiekte wat kort daarna Antonie se lewe geëis het, was toe al besig om die oud-lugmaggeneraal vinnig af te takel. Hy, die eerste Suid-Afrikaner om met ‘n Mirage deur die klankgrens te bars, kon nog net sy een hand 'n bietjie roer. Hy moes sy tee drink deur 'n strooitjie uit 'n beker wat sy vrou, Celia, vir hom vashou. Antonie sluk daardie oggend die trane terug terwyl hy vertel van die besoek wat hy die vorige Sondagmiddag van die hoof-indoena, Exon Mathebula, indoena Willem Shabangu en nog 12 lede van hul kerk ontvang het.

Willem, ‘n man uit een stuk en ‘n opperste vaderfiguur, het uit 'n Afrikaanse Bybel vir Antonie gelees. Jakobus 5: 14: ”As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring; die Here sal hom gesond maak.”

Daarna is vir die sieke gesing en gebid. Die Bybel waaruit gelees is, is een wat Dawie vir Willem gegee het. So intiem verweef is die broederskap van die bos!