Die lewe in die bos

Iets waarop Tarlehoet se inwoners danig trots is, is ons eie kreepy krauly. 'n Regte, egte een vir die bos, wat sonder elektrisiteit werk. Op 'n patent van my jongste broer, Cules Malan van Pretoria -- 'n praktiese man met ‘n plan vir alles. 'n Stuk tuinslang wat in die pakkamer was, is, volgens sy aanbeveling, eenvoudig met draad aan 'n stok vasgewoel. Tokkie (wat ook ‘n kraan se wasser uit ‘n skoenveter kan tower) het vir die montering gesorg. Toe sy met haar produk klaar was, kry haar handlanger die opdrag om "aan te skakel". Ek moes suig. Maar eers moes ek blaas om voorsorg te tref vir die moontlikheid van 'n gogga of slang in die tuinslang. Ek suig dat dit bars en kry eers 'n mondvol vuil water.

Dan begin die kreepy sy werk doen. Die bodem van ons swembadjie is vinnig pragtig skoon, selfs van die hardnekkige blare en takkies van die maroelaboom. Maar haar rug kan dit elke keer voel dat sy 'n swembad met 'n tuinslang skoon suig, kla my vrou. Ook in dié opsig is daar vooruitgang. ‘n Nuwe kreepy het bygekom. Dis ‘n dik swembadpyp met ‘n besem, ons eersgebore nasaat, Johan, se patent. Die suig en blaas verg goeie longe. Maar dit werk die blare se gal!

Sabiepark se nuwe TV-lokaal – of “klubhuis” -- is in 2004 ingewy. Kompleet met skuifdeure en braaiplekke. Voorheen was ons aangewese op ‘n enkelrondawel naby die kantoorgebou, een met regop plastiekstoele en ‘n sementvloer. Gerieflik was dit nie juis nie. Elegant nog minder. Die skerm was darem later jare een van hierdie nuwe plattes. Daar was ook ‘n skottel. En DSTV. ‘n Saterdagaand gaan kyk ons na ‘n rugbytoets teen die Engelse. In die TV-kamer sit ons soos sardiens ingepak. Biltong en droë wors word rondgestuur, en elkeen het iets te drinke. Toe 'n paar patriotte op aandag spring en die flentertjie van Die Stem in Nkosi Sikelel iAfrika uit volle bors saamsing, vra ‘n Amerikaanse besoeker van San Francisco vervaard: “Must I stand?” Die aksie begin. Die man van Kalifornië sit eenkant met 'n bottel Old Brown-sjerrie en 'n keramiek-wynglas wat hy vol hou. Hy kyk meer vir die meelewende "skare" as vir die rugbywedstryd, skud sy kop en mompel onhoorbare kommentaar. Bek-af omdat die Springbokke sleg verloor het, is elkeen na die wedstryd met sy flitsie in die nagdonker motor toe. Onthou, dis op hierdie einste paadjie waar ‘n luiperd kort tevore 'n blouwildebees gevang het!

Boshumor – van die klassieke “lag-met-‘n-traan”-soort -- kan meermale tot ‘n stadsjapie se aanpassing by bosdinge soos gas, paraffien en batterye teruggevoer word. Dit verloop nie altyd seepglad nie. Een gas-eskapade was agterna gesien nogal vermaaklik. Dit begin by ‘n besoek van die nimlike Cules en sy gesin. Ek laat die vorige dag 'n nuwe silinder van 48 kg aflaai -- 'n voortreflike stuk tydsberekening, want die laaste oggend blaas die oue opstaantyd sy laaste gô uit. Net hier loop die tydsberekening egter skeef. Want toe Tokkie dringend roep, staan ek onder die stort. Sopnat, en met net die nodigste bedekking, storm ek uit en skakel na die nuwe silinder oor.

In my haas het ek ongelukkig vergeet om die nuwe silinder se kraantjie oop te draai. Toe die skok tref, is dit weer buitentoe, die handdoek teen daardie tyd kwalik meer op sy behoorlike plek. Maar natuurlik is ek te laat. Al wat ‘n gastoestel is – van stoof tot vrieskas -- se lewensvlammetjies flikker hul laaste flikker. En die Malans moet nog koffie kry en stort. Dit gee 'n geskarrel af om alles wat moet brand, weer aan die brand te kry. Veral die weerbarstige yskas. Verdeksels!

Van gas na gras. ‘n Grasdak is koel en karaktervol. Maar só omring van bome moet dit gedurig ont-"blaar" word. Nogal 'n operasie. ‘n Lang stok is nodig, soos Ockert Britz se paalspring-paal. Daarmee moker jy die dak of jou lewe daarvan afhang. 'n Blarekombers sif neer. Saam met die blare kom die stof. Tokkie is net klaar die vloere gevee, dan kom 'n volgende vlaag. Dis egter 'n noodsaaklike takie. As jy jou oë sluit vir die blare wat onder die ogiesdraad saampak, sal dit vrot en jou dak se leeftyd verkort. ‘n Sindelike taak is dit egter allesbehalwe.

‘n Stabiele selfoonsein is ‘n skaars artikel en elke oproep ‘n uitdaging. Daarvoor moet jy die topografie ken. By Tarlehoet is die vierde paaltjie van die huis af by die parkeerplek die beste staanplek. Dis Brent se ontdekking. Maar die bos het ook sy belonings. Sebras en ander wild omring jou dikwels terwyl jy jou “veldfoon”-prate praat.

Elke huis het ‘n skedel (selfs van olifant-herkoms), ‘n opgestopte dier of kop, ‘n paar velle en/of horings, ‘n besonderse stuk hout, ‘n bak welriekende snuifkalbassies of ‘n rangskikking peule wat ‘n boskarakter help skep. By Ronnie en Elma Schoombie het die nekwerwels van ‘n ontslape kameelperd ‘n nuwe lewe gevind -- as blakers. So ‘n nekwerwel met ‘n kersie lyk kompleet nes ‘n engeltjie!

Party bosbates voeg ander waarde toe. Soos die maroelavrug (só groot soos ‘n groottoon) wat in die middel van die somer ryp word. Die vroulike bome stort dan hope vrugte op die grond waar dit geel verkleur. Die maroelas kan jou groot laat skrik as hulle in die nag plop, plop, plop op jou dak val, maar dit kook ook ‘n heerlike jellie, veral aan te beveel saam met wildsvleis. Ingelê in witblits is dit ‘n potente aptytwekker. Ook bier word gebrou -- wat glo skop soos ‘n karateka. Dit is bekend dat maroelas op die grond lê en fermenteer om ‘n bietjie alkohol te vorm. Daardie kwaliteit is deur Jamie Uys beroemd gemaak (en sekerlik ook ietwat oordryf) in sy rolprent Beautiful People. Maar ja, voëls, bobbejane, ape, olifante en verskeie boksoorte kan dit nie weerstaan nie. Miskien is dit heel onskuldig agter die Vitamien C aan. Maar ook in ‘n dier se lewe kan ‘n snapsie af en toe dalk tog wel ‘n bietjie vrolikheid bring!

Blare, blomme en sade verskaf nie net kleur en geur in die veld nie. Cas en Nella Jacobs van Centurion se kleindogter Marguerite (Smal) moes vir “Juffrou Lucy” van die graad drie-klas aan die Laerskool Hennopspark in 2002 ‘n taak oor sade maak. Sabiepark het nie op hom laat wag nie. Die Jacobse is daar weg met snuifkalbassie, raasblaar, kierieklapper, rooiboswilg, rosyntjies, sambokpeul, huilboom, worsboom en sterkastaiing. Marguerite moes eenvoudig vir “ons taak” ‘n A+ kry. Sy het.

Die bos het sy eie broederskap, het ek hierbo beweer. Oor hierdie broederskap, skryf Martie Meiring op 7 Februarie 1980 in die dagblad Beeld treffend: "Swart, wit, watter taal ook, watter stasie in die lewe ook, reik oor grense heen as hulle in hierdie atmosfeer van die bos saamsit om 'n vuurtjie, vertel van 'n spoor, onthou van toe die troppe groot en naby was, waarsku teen 'n luiperd wat baie naby aan die kamp rondbeweeg." Van daardie spesiale bos-band troon drie eienskappe uit. Dit is eerstens ‘n gemeenskaplike wrewel teen raasbekke, morsjorse en ander molesmakers wat die bosvrede versteur; ten tweede die tyd wat bosmense vir mekaar het; ten derde hul inklusiewe kameraderie.

Vervolg ...