Die lewe in die bos
Die Laeveldse winter is mild en kortstondig. Skaars drie maande. Die plaaslike inwoners, die Sjangaans, noem die maande Junie, Julie en Augustus beeldend Khotavuxika, Mawuwani en Mhawauri – die tyd wat die winter vashou, die gesuis van die wind, en die maand van die sterk winde. Hierdie tyd, wanneer mense suidwaarts bibber, is Sabiepark op sy besigste. Amper by elke huis brand saans ‘n paar lanterns en dwarrel die rook van ‘n kampvuurtjie. Eienaars kom van heinde en ver, ook uit die buiteland, om die behaaglikheid van die Bosveld se winterklimaat so lank as moontlik te geniet. Ook om, tradisioneel in die middel van Julie, in ‘n groot weermagtent op die rivierower hul jaarvergadering te hou. Nadat die verslae aangehoor, mosies gestel en kopstukke gesels is, word informeel saamgekuier op ‘n gesellige bring-en-braai waarvoor Sabiepark die groot vure, die stywe mieliepap en die sheba (‘n smaaklike tamatie- en uiesmoor) verskaf. Dis die sosiale hoogtepunt op Sabiepark se kalender.
Dat iemand se kop wintermaande Laeveld toe staan, verstaan mense. Dat jy dit soms ook in die somer daar waag, wek gewoonlik verbasing. Vergaan julle nie van die hitte nie? Dit is ‘n vraag wat ek al ‘n honderd keer moes antwoord. Dan kom dit van Kapenaars wat November, Desember, Januarie deur die tierende Suidoos verrinneweer word. Wanneer hy waai, en waai, en waai. Mhawauri, Mhawauri, Mhawauri! Liewe mense, in Desember is die bos dikwels op sy mooiste. Goed, op die warmste dae reik die kwik tot amper 50 grade in die skaduwee. Soms vat-vat die humiditeit aan 100. Maar as jy dit die jaar reg tref, skuif die son in Desember dae lank agter die wolke in. In ‘n goeie jaar is die bome en gras ‘n diep groen. Die talryke nuwe aankomelinge in die diereryk is ‘n bonus. Ook die buitengewone gewemel van voëls: van die paradysvlieëvanger met sy oranje flitse deur die takke tot die bosveldvisvanger wat nooit ophou sing nie.
‘n Spesiale Desember-vreugde is wanneer reën die aarde deurdrenk -- of in harde stortbuie of in ‘n sagte wiegelied op die grasdak van jou boshuis. Heerlik is dit om in jou swembadjie te plas terwyl die druppels om jou plons. Ja, in Desember braai die son jou verreweg nie elke dag nie. Vra maar vir die duisende hoopvolles wat in Desember 2002 vir die sonsverduistering na die noorde opgeruk het. ‘n Dik wolkelaag het die meeste ‘n streep getrek. Ook vir ons. Maar ons kla nie. Van Tarlehoet se stoep was dit tog ‘n onvergeetlike belewenis toe die bos in die skielike sterk oggendskemer begin rustig raak..
Voor in die tou was tarentale wat raserig vir ‘n avondhappie snuffel. Soos ‘n kruiwawiel se skreeugeluid, om ‘n beeld by die digter Totius te gaps. (“Soos ‘n kruiwawiel se skreeugeluid/kerm hy droefgeestig uit/terwyl die skeemring vinnig daal/die tarentaal”*) Op die “kruiwawiele” se hakke is rooibokkies, sebras en wildebeeste in gelid by ons verby, klaarblyklik op soek na slaapplek. Selfs die lastige muskiete het hulle met die horlosie misgis, en verward vir ‘n vale begin zoem. Lekker!
Dit was skaars oggend, toe’s dit weer aand -- ‘n aanmaning om dubbel waaksaam te wees. Vir mens en dier. Soos altyd na donker. Die diere besef instintief: ons moet ligloop. Die mens weet ook: dan stap jy nie rond nie. Roofdiere -- veral luiperds en hiënas -- kan enige oomblik jou pad kruis. As ‘n krisis na-ure opduik, kan Sabieparkers darem ‘n noodnommer skakel. Maar hoe gemaak as jou voordeur in die nag agter jou toeslaan, met selfoon, motorsleutels en alles binne? So ‘n penarie het twee van Sabiepark se heel senior burgers, Louis en Annaria Theunissen van Apiesdoring (erf 335 in Apiesdoringlaan) oorgekom. Hulle moes eenvoudig moedig aanstryk. ‘n Kilometer ver hek toe in stikdonkerte. Met ‘n flits en ‘n besemstok. Annaria wat nog die weerbaarste is, hou voor vas. Louis agter.
(‘n Noodgeval van ‘n gans ander aard het op 15 Februarie 2002 die brandspan laat spaander. ‘n Mazda 323 het reg voor die hek omgeslaan en in vlamme uitgebars. Die Sabieparkspan kry egter gou die vlamme onder beheer. Al 13 (dertien) passasiers is ongedeerd!)
Sabiepark het nie straatligte nie. Sy huise het ook nie krag nie -- uit eie keuse ter wille van die atmosfeer. Mense wat lief is vir die bos, verduur die “ongerief” blymoedig. ‘n Mikrogolf-oond, TV-stel, elektriese haardroër, rekenaar, kreepy-krauley en wat nog is goed waarsonder ‘n mens kan klaarkom as jy regtig wil. Lampolie, gas en sonkrag-energie -- goedkoop en deksels betroubaar -- is staatmakers uit eie reg. Buitendien: ‘n boer maak ‘n plan, selfs met ‘n rekenaar as die roepstem die dag te sterk word.
My veldvoertuig, ‘n Honda, se kattebak-vloer dubbel as 'n gerieflike opvou-piekniektafel, kompleet met 'n gat vir 'n sambreel. Ek het nie juis verwag die tafel gaan baie gebruik word nie. *Uit Totius se gedig Die tarentaal.
Maar hoe verkeerd kan ‘n mens nie wees nie! Op die Honda se eerste Sabiepark-vakansie is die tafeltjie feitlik elke dag benut. Nie vir piekniek nie -- vir skryfwerk! Ek karwei dit saam en vou dit oop in die kleedkamer by die swembad. Siedaar, 'n gerieflike werkstasie by 'n muurprop vir my rekenaar, 'n ingeboude sitbankie en elektriese lig. Moet sê dit was nie sonder komplikasies nie. Vir eers is die teenwoordigheid van 'n grysaard agter 'n rekenaar klaarblyklik inhiberend vir manne wat by ‘n kleedkamer inwals om wat ookal te doen. Party verduidelik verskonend die doel van hul besoek -- so asof hulle toestemming vra. Ander retireer onverrigter sake. 'n Mens leer ook om jou te staal vir die spitsvondige kommentaar wanneer die nuus uitlek (as dit in dié konteks 'n gelukkige woord is!) waar jou skryfwerk sy beslag gekry het. "O, dis dié dat dit so 'n ou ***- boekie is!"
Deesdae het ek die plesier om op Tarlehoet se stoep te sit en tik danksy ‘n invertertjie wat op aanbeveling van my skoonseun, Brent Claassens, in die Kaap aangeskaf is. Die klein wonderboksie omskep 14 volt tot 220. Die stoep is baie geselliger as ‘n swembad se kleedkamer. Selfs tee word van tyd tot tyd bedien!
Brent -- die mak Engelsman, soos ek hom noem -- het Sabiepark in 2002 leer ken. Hy het maar taamlik bedug daar aangekom, want hy gril vir slange en skerpioene. Boonop het Marisa hom wysgemaak die enigste toilet is ‘n regte plaaskleinhuisie met ‘n put, ‘n long drop. Toe die stadsjapie met sy swart Mercedes by die boshuis stilhou, kon jy eintlik sien hoe sy oë oor die werf soek-soek. Brent se verligting was groot toe hy die spoelriool ontdek (Sabiepark se rioolstelsel is die doeltreffende septiese tenk of French drain waarvan Chris van Rensburg sê: “Die gras is altyd groener .... op die septiese tenk.”) Toe Brent en Marisa na 14 dae terugdraai Kaap toe, was ons skoonseun ‘n bekeerling. Hy het ‘n nuwe passie ontdek, het hy in ons boek geskryf. Dit is Sabiepark. In die 14 dae het sy Engels boonop so verroes geraak dat hy vir Johannesburgse (Engelse) vriende opgewonde vertel het van die rhinoster wat hy gesien het. (Darem nie ‘n renosteros nie!)
Vervolg ...


