Die lewe in die bos
‘n Bielie van ‘n baard, verskeie variasies op die tema kakie-bosmondering en kieries met karakter. Dit is drie simbole van die bos wat dadelik toegang verleen tot die spesiale broederskap van bosmense -- ‘n sonderlinge spesie met die bos in hul bloed.
Met ‘n baard het ek net een keer geëksperimenteer, so ‘n welige gryse. En grof soos klapperhaar. Toe ‘n Kaapse vriend, Pierre van Manen, ‘n foto sien, was sy onmiddellike kommentaar: “As jy ‘n perd het, het ek vir jou ‘n groen onderbroek.” Daardie konnotasie het nie in my kakieklere gaan sit nie.
Die kakie-uitrustings in my bos-klerekas is eintlik “beste” drag vir uitstappies na Skukuza of Hazyview, gereserveer vir kerk of besigheid. In Sabiepark is die kleredragkode: hoe ouer, hoe beter. Formele klere ontbreek toetentaal. My enigste pak klere, das en formele paar skoene is geoormerk as begrafnisklere. Jy weet nooit wanneer dit dalk tydens ‘n bosvakansie dringend nodig sou raak nie. Die byl kap deesdae al hoe dieper in ‘n mens se bos…
Kieries besit ek in allerlei vorms en soorte. Een is ‘n meesterstuk. ‘n Bloemfonteinse vriend wat met hout kan toor, Jan Scholtz, het dit vir my uit Transvaalse kiaat gemaak. Die handvatsel is ‘n bielie van ‘n vlakvarktand. Tokkie het foto's geneem van die plegtige oorhandiging op Tarlehoet se stoep. Van toe af is ek en my kierie ‘n onskeibare tweemanskap. Maar daardie kiaat-kierie het my groot laat skrik op ons eerste kuier nadat dit in my lewe gekom het.
Ek en Tokkie stap piekniekplek toe. Op pad tref dit my soos ‘n donderslag: "Waar's my kierie dan?" Ek het hom nie by die huis gesien nie, en nee, my vrou weet ook nie. Met elke tree styg die ongelukkigheid. Later is in my gemoed geen twyfel meer nie: my geliefkoosde kierie is gesteel. Dalk vir muti? Renosterhoring verskaf glo net die regte doepa vir ‘n kwynende libido. Daardie aanspraak is nie onbekend nie. Waarom dan nie ook vlakvarktand nie? Die potensiële gebruike van vlakvarktand eskaleer met elke tree wat ons loop.
By die piekniekplek bereik die spanning breekpunt. Ek moet dadelik gaan soek. Nou drafstap ek. Tokkie bly al hoe verder agter. Sy protesteer en hyg en sweet. Oor my skouer roep ek net na haar toe: "Jy kan by die huis in die swembad spring." Ek bars behoorlik by die deur in. Soek agter die boekrak, skuif die kas met glase weg. Kyk selfs in die dak op. In die kamerkas pluk Tokkie haar klere opsy. Veilig in die hoekie staan die kierie. Ons het klaarblyklik die vorige vakansie besef so ‘n waardevolle kierie moet deeglik weggesteek word. Toe steek ons dit amper te deeglik weg! Die geheues is ook nie meer wat dit was nie.
Na die hereniging laat ek my lippe so vee-vee oor die blinkgladde vlakvarktand. Tokkie wil ewe opportunisties weet of ek net so uit my vel sou wees as dit sy was wat weg was en weer gevind is. Volgende vraag!
Die beskawing is net drie dae diep, lui ‘n bosgesegde. Dit beteken: na drie dae is alle stres vergete. Spanning wyk. Bekommernisse lyk minder gedug. Jy kan weer begin lewe met ‘n hoofletter L. ‘n Vername element van daardie LEWE is die omskakeling van stadskind tot natuurkind. Om op die stoep te wag dat die wild verbykom. Om fyn te kyk en fyn te luister vir geluide, spore en mis. Om die bome te verken -- of al jou groen naamplaatjies nog daar is. Ook vir blomme en sade. Om saans ‘n kampvuurtjie te pak….
Tarlehoet se stoep is ruim met ‘n hoë grasdak. Dis 'n gesellige plek. ‘n Plek vir kuier. Heeldag deur, en selfs in die nag. Op ‘n helder volmaanaand besluit ek en Tokkie op ‘n nagwaak. Maar ons het dit -- soos my volbaard -- net een keer probeer. Die silwer maan tussen die swart takke deur was fassinerend. Om Tarlehoet was dit egter maar grafstil. Voor middernag was die winterkoue op die stoep te geniepsig en die geduld op. Die vuurtjie is gedoof. Kort na 04:00 jaag ons gewetens ons egter weer uit die bed. 'n Vrugbare oggendrit voor dagbreek het darem vergoed vir die verlore slaap. Deel van die stoep-genot is ‘n klein swembadjie, primitief maar darem. In die ongenadige somermaande is die koel water verkwikkend. 'n Ware lewensredder. Uit die bed in die water, uit die water in die bed -- dis mos die lewe, my maat. Saans, met ‘n paar drywende kerse op die oppervlak, is die swembad ‘n prentjie.
Jean Smythe het vir ons gesê: "Ons het later nooit meer Wildtuin toe gegaan nie. Ons het vir vriende aangebied: vat julle die motorsleutels, dan gaan ry julle -- ons kuier sommer hier op die stoep." Op ‘n morsdooie stuk pad suid van Skukuza vra ek Tokkie of sy daardie woorde onthou. Goeie aarde, antwoord sy verras, lees ek dan haar gedagtes? Sy dink presies hierdie oomblik daaraan. Om egter net in Sabiepark veranker te wees? Nee, daarvoor is ons darem ook nie kandidate nie. Albei is te lief vir die Wildtuin, wat ons in ‘n wintervakansie twintig, dertig keer besoek. Maar Tarlehoet se stoep -- die’s tog wel ‘n kuierplek duisend.
Ook nie net Tarlehoet se stoep nie. Sabieparkers kan nogal mededingend raak as hulle begin “stoepstories” vertel. Een spog met ‘n watertand-luiperdstorie, ‘n ander met ‘n vertelling oor olifante, ‘n derde met die besoek van ‘n uiters seldsame voël hoog en droog in ‘n oorhangende tak. Die prys vir die sonderlingste stoepervaring moet gaan aan die joernalis Martie Meiring en ‘n vriendin. Hul waarneming was in Martie se woorde “uniek, maar vreeslik tragies”. Van die ruim dakstoep van die Meiring-woning, Meiringspoort, het die twee vroue dopgehou hoe vlugtelinge uit Mosambiek die rivier probeer oorsteek. Voor Martie-hulle val ’n baba toe in die water. Die twee vroue het magteloos aanskou hoe die ou rooi bondeltjie sommer net verdwyn. Later het soldate van dié mense se goedjies gekry wat saam in die water beland het. Daaronder was foto’s van die familietjie voor hul hut in Mosambiek. Die baba was spoorloos.
Vervolg ...


