Brul by die braai

Vyf weke later, op Vrydagaand 13 Augustus, is dit Tony en Noenoe Zimolong (erf 353 uit Wildevylaan) se beurt vir leeuplesier -- en groot skrik! Die Zimolongs se lapa neffens die piekniekplek kyk uit op ‘n oop stuk rivieroewer. Die oewerbos in daardie omgewing is meesal yl en klein. Langs die kampvuur in hul lapa verlustig die Zimolongs en ‘n paar vriende, drankie in die hand, hulle lank aan 'n seldsame skemer-vertoning van leeus wat op 'n veilige afstand kom en gaan. Eers verskyn ‘n uitgegroeide wyfie in die oopte en staar die groepie Sabieparkers onvriendelik aan met ‘n wye oop bek. Toe kom die kraagmannetjie. Hy gaan sit soos ‘n hond op sy agterpote en gluur vir die toeskouers. Twee lewenslustige welpies klouter en speel op en bo-oor hul ma.

Vir Gary en Michelle Karlson van Thulani (erf 191 in Maroelalaan) het die Zimolongs daardie middag eers leer ken. Die Karlson-egpaar is sommer in die pad voorgekeer en genooi: “Kom kyk, hier’s leeus” Só is die kameraderie onder Sabieparkers. Die Karlsons het hulle nie twee keer laat nooi nie; hulle kon nie vinnig genoeg ‘n U-draai maak nie. Kort na 18:00 groet hulle om ‘n eie vuurtjie te gaan pak. Maar 'n luide, aanhoudende gegrom laat hulle op pad na hul motor toe versteen vassteek. ‘n Vinnige leeu-stormloop in hul rigting laat hulle, wit geskrik, vinnig retireer. Gelukkig is die gevaar sowat vyftien meter ver, met die draad tussen hulle!

Tony, 'n lid van die Sabiepark-bestuurskomitee, sit vir sy etegaste ‘n vleisie op die kole. Gashere en gaste sou buite aansit. Vir oulaas swaai hy sy flitslig rivier se kant toe. Toe's dit net die ene blink oë. Die vyf groot katte sit snoesig saamgebondel in die ligkol, teenaan die draad. Die vyftien meter het onheilspellend tot skaars twee meter gekrimp. Die vierstuks neem ‘n vinnige besluit. Hulle raap hul braaivleis op en soek liewer maar vinnig die veiligheid van die huis op. By sy eie huis, ver van die leeus af, braai Gary Karlson ook maar haastig en op sy hoede.

Dieselfde nag word die leeus verdoof en na 'n pan sowat 20 kilometer in die Wildtuin gebring -- die eerste poging in 'n lang, ingewikkelde operasie om hulle uit Sabiepark te verwyder. Maar saamwerk se voet. Sommer die Dinsdag al is die hele trop terug. Sonder 'n letsel na die lang trek, net brullend honger. Aas word weer uitgesit -- hierdie keer "gelaai" met doepa bestaande uit honderde slaappille. Die Woensdagaand vat hulle dit. Hulle word 'n uur lank laat vreet. Daarna word hulle weer een-een verdoof.

Voor sonop word hulle, steeds diep in droomland, op ‘n sleepwa na die bomas by Skukuza gebring. Bloedtoetse word gedoen. Die volwasse leeus het almal TB onderlede. Die enigste opsie is om hulle uit te sit. Voordat die gordyn op dié hartseer-noot sak, speel ‘n natuurdrama in ‘n natuurdrama hom af. Die gefrustreerde wyfie vreet reeds die eerste nag in die boma een van haar welpies op en breek die ander een se rug. Só berserker word ‘n wilde leeu in gevangenskap!

Die pluspunt van hierdie vyf weke lange leeubeleg -- die langste in Sabiepark se geskiedenis -- was, in die woorde van Handa Zeller, dat Sabiepark se bos in daardie tyd "die hartkloppende element van leeu-verrassing" ingehou het. Die negatiewe was dat die kuiergaste maklik R30 000 se wild verorber het, meer as op enige vorige of latere inkursie deur die spesie panthero leo.

Leeus het ‘n gesonde aptyt. Niemand kan hulle daarvan beskuldig dat hulle selektiewe doodmakers is nie!