Bos-Mafia

Soms, net soms, is die skoen aan die ander voet. Toe ek en Tokkie ‘n Saterdagoggend by Kamp 248 in Appelblaarlaan verbystap, hoor ons van die pad af aardige geluide. Ons staan nader en verras 'n trop bobbejaan-inbrekers op heter daad. Hulle kry omtrent die horries toe ons so skielik uit die niet verskyn. Die hoofman oor honderd was oor die ontydige verskyning so moerig (gefrustreerd?) dat hy sommer sy ghantang vlakvoor ons gryp vir ‘n skaamtelose, oorhaastige liefdesdaad! Hierdie toeskouer was maar lugtig. Hulle sê mos: as die bobbejaan sy stert verbrand, byt hy sy baas. En sê nou die ou met die grillerige geel tande kry suspisie hierdie vreemde wese wil om die gunste van sy wyfie(s) kom meeding. Uit die geluide en aktiwiteite kon ek juis aflei: hierdie dames steek nie lyf weg nie!

Gee die duiwel wat hom toekom. Dat bobbejane ook goeie eienskappe het, ontken ek nie. Hulle lyk soos voorbeeldige ouers met die outydse geloof dat kinders gehoorsaam moet wees. Hulle spaar die roede nie. In ‘n trop heers dissipline en elkeen het sy eie krans. Dit kan ek sien. Ek glo ook ongekwalifiseerd ‘n wyfie sal daardie kleintjie wat sy so sorgsaam onder haar abba, met haar lewe beskerm as dit moet -- wat meer is as wat van sommige argelose mensemammas gesê kan word. Ag, laat ek tog maar erken: vir my was bobbejane ook eers oulik as hulle so in die son sit en mekaar van toegewyde skoonheidsorg bedien. Ure lank. Nes vroutjies wat in ‘n haarsalon sit en gesels. Maar ek is nie my vriend Kapous nie wat na ‘n “terroriste”-inval nog kans sien om berustend te deklameer : “Lank lewe die bobbejane!”

Nee wat, laat ander mense nou maar by hulle stilhou om hul manewales te bekyk. Vandat ek die ou nasie op ‘n harde manier beter leer ken het, ry ek dikbek by hulle verby met ‘n permanente wraaklus in my boesem. Ek bewapen my met “ketties”, klippe en ander missiele. Met my kleurryke “kettie” wat by die Klein-Karoo-kunstefees op Oudtshoorn gekoop is, laat ek die klippe sing. Toe een missiel, so groot soos ‘n ghoen, die tak onder die brandwag se sitvlak tref, tuimel hy al gillende reg agteroor. Dit was nou vreugde. Boonop is Tokkie wie se simpatie maar altyd by die diere is, in die bobbejaan-kwessie bankvas agter haar man. Sy hou ‘n braaipan byderhand waarmee sy ‘n onaardse lawaai opskop. Sy het ook geleer om dreigende spronge uit te voer en boosaardig te sis en te hyg. Die sissery beskou sy as buitengewoon doeltreffend, al slaag die vyand tog by geleentheid daarin om haar te fnuik.

‘n Mede-Sabieparker (wat uit hoofde van diskreetheid liewer naamloos moet bly) het twee kwaaddoeners op ‘n keer in sy lapa verras en met sy sambok onder hulle ingevlieg. Die kleinste het hom rats by 'n gaatjie teen die dak uitgewurm. Die groter een is in 'n hoek gedryf. Daar is hy met die sambok wild en wakker gemoker. Toe hy dreigend tande wys, is sy harspan met een kap van 'n panga oopgekloof. Hy het in sy spore neergesak. Kapot. Klaar met kees. Dit is ‘n insident wat nie wyd bekend is nie, omdat die kadawer in die nag deur hiënas weggedra is. Die hardhandige optrede dra egter gewis die paar ingeligtes se goedkeuring weg. Ook toe ‘n klein bobbejaantjie by die rivier 'n kroonarend ten prooi geval het, het min Sabieparkers in medelye ‘n traan gestort.

Reeds in 1982 is in Sabiepark begin om die ergste belhamels uit te skiet. Dit gebeur net te min, glo selfs ‘n pasifis soos ekself. Maar Sabiepark se owerstes stem nie saam nie. Volgens hulle is die “bobbejaan-probleem” eintlik ‘n “mens-probleem”. Mense wil eenvoudig nie leer dat hulle nie bobbejane moet voer of versoekings op hul weg moet plaas nie. Dis ten dele waar. Onnadenkende mense skep inderdaad kwaaddoener-bobbejane. Maar dis ook nie die hele storie nie. Die punt is: dit vat nie veel om van ‘n bobbejaan ‘n skermunkel te maak nie. Daarvoor is die ou nasie net te ontvanklik vir die kwade.

Ja, in Sabiepark heers nie net altyd sereniteit en vrede nie. Selfs die oulike blou-apies -- baie mooier en minsamer as die bobbejane en buitendien ook met heelwat aantrekliker agterwêrelde -- kan moles maak. ‘n Keer was die hele Skukuza en wildparke in die omgewing 'n hele ruk sonder krag met die komplimente van 'n blouapie wat die uitdaging om 'n kragpaal aan te durf, nie kon weerstaan nie.

As grypdiewe is hulle ook buitengewoon behendig. By die piekniekplek gaan twee ontbytmakers een oggend na ontbyt, met twee rou eiers nog ongebruik in die houer op hul tafel, ‘n draaitjie loop. Soos blits duik ‘n smulpapie van ‘n apie uit ‘n huilboerboon, gaps een van die eiers en gaan sit hoog in ‘n mik. Hy maak tydsaam ‘n gaatjie in die dop en suig die eier netjies uit. Toe kom hy ewe onnutsig vir die tweede. Hy mik vir dieselfde tak. Maar die gaatjiemakery loop skeef.

Die eiergeel val kerplaks uit die hoogte tot op ‘n niksvermoedende piekniekmaker se kop. Die besmeerde slagoffer het die klein twak nie mooi dinge toegesnou nie!