Bos-Mafia

Op ‘n volgende besoek, twee maande later, hoor Leonora by hul braaiplek ‘n geskuifel. ‘n Sterk nuwe flits word dadelik ingespan. Al wat die straal optel, is egter twee dowwe “ogies” – te klein om ‘n bedreiging te wees. Dalk glimwurms? Maar nee, dis toe nie glimwurms nie. Dis niks minder nie as Kapous se bril wat in ‘n bossie weggesmyt is. Adoons moet besef het: al dra ‘n aap ‘n goue bril, bly hy met lees ‘n ronde nul!

Een van die brilglase het ‘n lelike krap wat nie wil uit nie, en een neusie is af. Maar Kapous self kom darem nou weer lekkerder reg met die koerant. ‘n Ander stukkie keeskaskenades wat die Moutons aan eie bas gevoel het, beskryf Kapous vermaaklik soos volg:

“Toe ek die huis nader, sien ek plastieksakke, papier, ens. En daar staan my vrou: verwese, verslae, platgeslaan.

“ ‘Ma, was die bobbejane in die huis?’

“ ‘Kom kyk hoe lyk dit binne.’ Daar is pyn in haar stem.

“Dis om van te huil, nee om van te ween. Huil is hartseer met ‘n traan. Ween is ‘n wroeging, ‘n gewurg soos ‘n battery wat oorkook van die suur.

“Chaos! Dis net kos waar jy kyk: gebreekte eiers, bruinsuiker, koekies, die duiker se mielies. Dan nog flenter-plastieksakke en daardie pertinente ‘stempels’ wat hulle op nie minder nie as elf plekke gelos het.

“Ek moes wonder: het hulle eers hul mae leeg geforseer en toe geëet of eers geëet en toe laat waai? Waar begin jy skoonmaak?

“Alles is opgeëet. Net een blikkie beskuit is ons gespaar. Sy deksel was toegeplak.

“Maar nou het die Hemelse Vader mos aan die mens ook ‘n sin vir humor gegee. Ek sien in my geestesoog hoe ‘n jong knaap die sakkie met mielies gryp. Dan word hy deur ‘n ander gejaag, om ook te deel in die fees. Mielies spat in alle rigtings.

“Net een venster in die kombuis was oopgelaat. Die boonste deel van die sif is toe oopgeskeur. Ons het skoongemaak van 12:30 tot 17:30.

“ ’n Vriendelike opmerking: Sluit ALLES, moenie net toetrek nie. En moenie die knape se intellek en vindingrykheid onderskat nie. Ek is oortuig hulle is bo-gemiddeld intelligent. Eintlik begaafd.

“Ons het die dag maar beskou as ‘n welwillendheidsdag, en uitgereik na ons bosbure wat seker eerste reg het op die bos. Lank lewe die bobbejane!”

Kapous verdien ‘n dekorasie vir lankmoedigheid. My eie vergewensgesindheid en geduld is bepaald nie van dieselfde stoffasie nie. Na November 1997 was dit nooit. ‘n Lid van die boggombende het toe al die eerste keer by my en Tokkie die huis binnegedring -- toe ons nog net aspirant-kopers was. Die ongenooide gas het ewe ongeërg ingestap by ‘n skuifdeur wat ek uit onkunde oopgelos het. Gelukkig laat spat hy met net 'n klomp skille in ‘n kardoes. Agterna het Tokkie gespot: sy wonder watter bobbejaan die grootste geskrik het toe ek en kees mekaar in die eetkamer raakloop. Ek het nie gedink dis vreeslik snaaks nie.

'n Regte, egte bobbejaan-besoek met al sy bynadele het ons ongelukkig nie lank vrygespring nie. Net ‘n paar maande later, toe trek ‘n span soos ‘n orkaan deur Tarlehoet. Die onheilspellende tekens het ons al langs die pad gekry. Die spore in die sand het ons benoud gemaak, veral toe ons sien watter kant toe die tone wys. By die huis was die eerste teken die omgekeerde vullisdrom (toe nog ongepantser). In die swembad was ‘n yslike vars tak van die maroelaboom langs die stoep. ‘n Hoop blare het op die water gedryf. Op die stoep was ‘n blaker gebreek. Die ysterpot se deksel is eenkant gegooi. Die selfoon wat in die pot weggesteek was, is gelukkig uitgelos. Wat weet ‘n bobbejaan nou van stemboodskappe en es-em-esse?

Binne die huis was ‘n groter warboel. Ou kalante het blykbaar bly stamp aan 'n venster totdat die knip meegee. Daarna was dit kinderspeletjies om die gaasraam oop te buig. Die inhoud van die vullishouer in die kombuis is op die vloer uitgesmyt. Rakke is gestroop en laaie uitgepluk. Die brood en beskuit is verorber. Die nagapies se piesangs in die vrugtebak is as nagereg geniet. Die skille is rond en bont geslinger. Maar voordat hulle werklik ballisties kon raak, het ons gelukkig opgedaag. In hul haas om weg te kom, is toe nog twee gaasrame uitgebreek.

Nuus trek vinnig. Binne tien minute was die personeel daar om die stukkende rame te kom haal. Hulle wou simpatiek weet of hulle nie ‘n span skoonmakers moet stuur nie. Maar nee dankie, ons sou self regkom. Dat die Van Deventers die duiwel in was, sal ek egter nie ontken nie. Skorriemorries! Donnerwetters! Dit was van die makste skeldname wat deur dun lippe uitgepers is. Die meer gekruides is nie herhaalbaar nie. Ons bui het ook nie verbeter nie toe ons na operasie skoonmaak lus kry om te gaan induik – en die ou duiwel ons skielik laat wonder of van die bokkers nie dalk in die water was nie. Dalk het hulle daar gedoen wat geen ordentlike mens (of dier) in swemwater behoort te doen nie.

Die begeerte om af te koel, was egter oorheersend. Toe knyp ons maar oë toe en spring in. Eers die volgende oggend is die water uitgetap en met varses vervang. Ons was toe nog galbitter, maar die besef het ook begin deurdring hoe dankbaar ons behoort te wees oor die relatief min skade en ongerief.

Toe Johan en Mariza in Sabiepark die eerste keer alleen bos toe gaan, maan ons: “Pas op vir die twee B's, brand en bobbejane.” ‘n Mens moenie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie, goed en wel. Maar as jy hom hoor boggom, dan weet jy mos hy’s daar! So glo my swaer Fanie van Wyk, en ek het nie rede om van hom te verskil nie. Dus sit ons die waarskuwing selfs ewe plegtig op skrif:

“Bobbejane is ‘n groot gevaar. Hulle kom in huise op soek na kos. Soos hulle plunder en mors, is iets ysliks. Hou ALLE VENSTERS en DEURE dig toe en gesluit as julle nie self in die huis is nie. Die agterste skuifdeur moet liefs gesluit wees as julle op die voorstoep kuier. Anders stap hulle in en maak die yskas oop! Moenie eens ‘n klein venstertjie op die boonste verdieping op ‘n skrefie ooplos nie. Hulle skeur die gaasdraad en wurm hulle in. Dis ‘n ernstige saak, wees asseblief altyd op jul hoede, want as bobbejane in jou huis gemors het, kan dit maande duur om die stank uit te kry. Moenie vullis in die vullisblik los wanneer julle ry nie. Gee dit by die hek af.”

Die kinders weet nou presies wat pa en ma bedoel het. Met hul terugkeer na 'n Sondag-uitstappie Krugerpark toe gly hulle behoorlik op piesangskille en muesli (sonder rosyne) die hele huis vol. Die lot het die keer ‘n kamervenster op die solderverdieping gestamp totdat die knip oopgly. Mariza het b-bolle in die skemer loop en optel met 'n lamp in die een hand en 'n lap in die ander. Skielik ontdek sy twee swart harige hande (onthou die Mafia-tak die Black Hand) wat agter ‘n kas uitsteek. Dit was nie Johan s'n nie! Johan jaag hek toe en keer terug begelei deur twee veldwagters, bewapen met 'n outomatiese R4-geweer. Hulle mag egter net een skoot in ‘n huis afvuur, met so min as moontlik bloed. Daarom moet hulle wag vir 'n veldwagter met 'n kleiner geweer. Fielies oorleef, gelukkig vir hom, die offensief. Terwyl hulle wag, is hy gillend, of die Filistyne op hom is, by die voordeur uit om aan sy familie te rapporteer.

Selfs ‘n Sondagmiddagslapie word nie deur die bobbejane ontsien nie. Vir David en Christine Serfontein van Hetnet het só ‘n skuinslê lelik ontaard. Vir middagete had die Serfonteins ‘n wildspotjie op die vuur. Saam met hul gaste, twee egpare van Randburg, is gesellig in die lapa gekuier. Daarna is eenparig gestem om voor enige verdere aktiwiteit eers ‘n uiltjie te gaan knip. Later word David en Christine wakker. Uit die kombuis kom allerlei klanke. Bedagsame gaste, dag hulle, en draai weer om vir ‘n laaste rukkie se ontspan -- dankbaar oor die berg skottelgoed wat hulle in hul geestesoog sien kleiner en kleiner word. Maar die geluide hou aan en die volume bereik ongewone vlakke. David is op pad kombuis toe vir ‘n ondersoek ter plaatse toe hy hom in die gang trompop in ‘n bobbejaanmannetjie vasloop. Die res van die invalsmag was nog in die kombuis -- nie besig om skottelgoed te was nie, maar om die chaos na ‘n heerlike middagete tienvoudig te vererger.

Dis die klas aapstreke wat ‘n mens aapstuipe kan gee! Die Serfonteins en hul gaste het ure geswoeg om orde te herstel. Daar was ‘n stroefheid in die lug, maar darem ook ‘n bietjie balanserende selfspot. Want dit kom toe op die lappe al drie pare is deur die gedoente in die kombuis uit die slaap gewek. Al drie kom toe tot dieselfde (foutiewe) gevolgtrekking oor wat daar aan die gang is, en ag dit gerade om hulle eers maar ‘n rukkie skaars te hou.

Vervolg...