Bos-Mafia
Hul astrantheid en wetteloosheid stempel bobbejane as die mafia van die diereryk. In Sabiepark is ‘n vertakking met ‘n aggressiewe, mank mannetjie as godfather. Dié belhamel en sy 60, 70 plunderaars -- ‘n cosa nostra bos-tra soos min -- voer ‘n soort skrikbewind in ons andersins vreedsame, misdaadvrye park.
Troppe sekelstert-stropers breek in agter kos aan en bemors huise. Hul onwelriekende uitwerpsels word rond en bont tussen die gebreekte eiers, papgetrapte papaja, suiker, meel, koekies en flenters plastieksakke geblerts. Om op te ruim, is ‘n nare, rugbreek-taak wat ure kan duur. Die hardste hardekoejawels gryp eetgoed uit die weerlose hande van vroue en kinders. Uit pure vernielsug breek hulle motors se lugdrade. Hulle verrinneweer huise se dakke. Dis dalk die heel ergste, omdat die bobbejaanskade aan dakke soms in tienduisende rande bereken word. Vra my!
Die geur van ryp maroelas of sommer gewone vandalisme lok bobbejane in getalle die grasdakke op. Twee keer in een jaar het Tarlehoet se dak onder so ‘n rinkinkery deurgeloop. Eers het die versekeraars gedink dis ‘n groot grap en met ‘n glimlag betaal. “Bobbejaanskade aan die dak, ha-ha.” Toe die swerkaters ‘n tweede keer ‘n gat soos ‘n maankrater in die dekgras dolwe, was die manne met die geel sambreel nie meer geamuseerd nie. Die hele dak was vroeër met sifdraad oorgetrek. Die draad is op advies verwyder om die dekgras teen verrottende blare te beskerm. Na die tweede dak-moles is dadelik weer ‘n draadkombers oorgegooi. Bobbejane is ‘n groter gevaar as blare. QED.
En die spul skrik vir niks. Die vermetelstes kom ruk en pluk aan jou deure en vensters selfs al sien hulle jou binne sit. Ouma was ‘n vreesbevange toeskouer toe ‘n mank mannetjie met ‘n oop wond aan sy been alles probeer om in te breek. Hy het haar waterpas in die oë gekyk terwyl hy van deur tot deur en venster tot venster wip om toegang te probeer kry. Naïewe siele bly glo jy kan bobbejaan-aanslae afweer deur speelgoed-rubberslange strategies oral om jou huis te drapeer. Se voet! Tokkie reken Sabiepark se boggoms is so wetsgeleerd dat hulle in ‘n japtrap kan bepaal: hierdie slangetjie is by Game gekoop, daardie ene by Pick ‘n Pay…. Nee, Sabieparkers het al op die harde manier geleer: as jy jou werf verlaat, moet jy deure en vensters grendel. Deeglik. ‘n Half-oop ruit is ‘n uitnodiging tot groot ellende. Dure ondervinding het ook geleer: vullisblikke wat nie bobbejaanproef is nie (d.w.s. met ‘n kontrepsie om te keer dat jy die deksel sommer net kan oplig as jy nie weet hoe nie) is sonde, moeite en ongerief soek. Die versigtigste eienaars loop saam met die onverskilliges deur.
Sekelsterte is nie “bobbejane” nie. Hul tegnieke is slu en uiters vernuftig. Dit dra die stempel van geharde misdadigers uit Gauteng. Vasbeslote inbrekers sal byvoorbeeld geduldig teen ‘n toe venster bly kap en klop todat die knip oopspring. Om daarna die gaasrame oop te skuif, is vir hulle kinderspeletjies. Net daardie gepantserde vullisblik-deksels slaan die klomp nog dronk. Maar vir hoe lank?
Kapous en Leonora Mouton van Vreklekker is onder die vele Sabieparkers wat bobbejaanstories kan vertel wat gewis nie vir hulle “vreklekker” kon gewees het nie. Een sou kon heet: Die Geheim van die Vermiste Bril. Dié is klaarblyklik deur ‘n bobbejaan buitgemaak nadat Kapous dit ietwat onverskillig buite laat lê het. Na ‘n deeglike soektog oral op elke moontlike en onmoontlike plek moes die ou vriend hom maar in die verlies van R1 500 se bifokale berus. As ‘n man wat te midde van erge teistering nog sy sin vir humor kan behou, kon hy darem net hoop dat dit die nuwe eienaar darem sou help om Beeld te lees!


