Suiker vir 'n duiker
Op 3 Januarie 2002, my verjaardag, kom ek en Tokkie in ‘n lowergroen Sabiepark aan. Ons maak die tweede, derde aand ‘n potjie. ‘n Duiker-ooitjie stap in die skemer doelgerig nader. Sy vorder tot so vier tree van die stoele waarop ons versteend sit. Sy kyk Tokkie stip in die oë. So staan sy ‘n hele paar minute terwyl haar gesig- en lyfspiere van spanning tril. Toe draai sy om en stap stadig weg. Ons dink dadelik aan die storie van Bok-Bok. Jy sal Tokkie nie oortuig dat dit nie die mammie was wat ons kom inlig het oor haar verlies nie. Daardie feit is ononderhandelbaar, sê my vrou.
Met die herinnering nog taamlik vars in die geheue, roep Tokkie my een oggend. Wat sy my wil wys, is Witnek wat snuif-snuif soos ‘n bloedhond op ‘n spoor ronddraf. Hy is kruis en dwars oor die werf. Toe op met die motorpad. By die voëlbad was sy pitjies presies nog soos Tokkie dit vir hom gelaat het. Dit het ons nog nooit gesien nie Oor die rede vir sy eienaardige gedrag kon ons slegs bespiegel. Tokkie opper die teorie dat hy dalk ontsteld is oor ‘n groot verlies. Miskien is sy ooitjie deur die luiperd gevang? Ek wonder weer of hy nie op ‘n strafekspedisie is nie. ‘n Paar dae tevore was hier juis ‘n vreemde duiker-rammetjie op die werf. Die ongenooide gas het ewe astrant sy gesig teen van ons bome gevryf asof hy dit wou merk. Miskien wou hy Witnek se jaloers bewaakte territorium binnedring?
Later hoor ons dis waarskynlik die liefde wat Witnek so beetgepak het. ‘n Dringende aangetrokkenheid tot ‘n ooitjie lei glo dikwels ook tot ‘n afgetrokkenheid oor kos! Dan had Witnek die skoot hoog deur, want sy pitjies is gewoonlik vir hom ‘n belangrike prioriteit. ‘n Periodieke stryd op Tarlehoetbodem woed juis presies daaroor. Dit is Witnek versus die tarentale, met Tokkie sonder voorbehoud in eersgenoemde se hoek. Op die een of die ander manier kry laasgenoemde snuf in die neus telkens as my vrou die pitjies uitsit. Dan kom dit van nêrens aangedraf in 'n lang swart tou wat my altyd laat dink aan 'n kerkraad van weleer wat sedig ge-manel uit die konsistorie die kerk instap.
“Toe, kom eet nou,” por sy vir Witnek aan as hy huiwerig op die bedreiging reageer. “Sjoe, sjoe,” verdryf sy dan weer die tarentale. “Nee, gee pad nou. Julle het jul beurt gehad.” Voordat Tokkie of die duikertjie hul oë kan uitvee, is die pitjies egter gedaan. Tarentaal se kind is nie onder 'n kalkoen uitgebroei nie. Die suspisie dat uit dieselfde hand nog 'n sarsie pitjies vir die regmatige begunstigde kan kom, hou hulle by Tarlehoet vasgenael. Hulle sit rond onder die bome en op strategiese stompe. As Tokkie roer, is dit of 'n trilling van afwagting deur hulle gaan. Daar word skril gebabbel en flink nadergestaan.
Later kom Witnek weer op sy gewone ronde. By die voëlbad wag ontnugtering -- geen pitjies nie. Hy reageer seergemaak en verontwaardig. Kyk vererg rond en staar dan stip in die rigting van die voorstoep. Dit is onmiskenbaar 'n beskuldigende blik. Tokkie probeer verduidelik: "Ek kan niks doen nie, liefling. Jy moet hulle self jaag." Witnek bly maar staar. Alle sisteme is nou op waaksaamheid ingestel. Die oomblik as die tarentale, moeg gewag, na 'n ander bestemming vertrek, vat my vrou die gaping. Sy is haastig die trappies af, bak nuwe pitjies in die hand. Dit word op die gewone plek gestrooi, dalk 'n rapsie ekstra uit boetedoening! Dan word Witnek met kloekgeluide aangemoedig om vinnig te kom eet. As hy daarin slaag om die tarentale te troef, is dit soos ‘n Olimpiese triomf. Hy word van die stoep af toegejuig asof hy ‘n kampioen is.
Die laaste oggend as ons na ‘n vakansie toesluit, is dit altyd met ‘n enorme skuldgevoel . Dink net watter ontnugtering wag nie op Witnek nie as die pitjiestroom skielik net doodloop. Ons probeer ongesiens wegglip. Die laaste vakansie het Witnek ons egter voorgespring. Toe ons wil ry, staan hy roerloos by die voëlbad en wag. Tokkie se oë ontmoet syne en sy kan die verwyt daarin nie verduur nie.
“Gee hier die padkos,” kom haar opdrag. Daar kry Witnek toe ruimskoots van my gunstelingbroodjies!


