Suiker vir 'n duiker

Sommer die eerste aand van die volgende besoek hoor ek ‘n uitroep van die voorstoep af. Ek los dadelik my vuur by die agterstoep en draf nader. Haar stemtoon kon óf blydskap óf ontsteltenis verraai. Toe ek die duikertjie gewaar, weet ek dadelik dis nie ontsteltenis nie. Die wit V op sy rug raak prominenter soos die ou ouer (en gryser) word. Toe die twee oogkontak maak, is die herkenning dadelik wedersyds. Hy gaan wag toe sommer dadelik op die gewone plek vir sy pitjies. Waar hy was, bly ‘n raaisel. Maar al wat tel, is hy’s terug en die Kaap is weer Hollands!

Witnek se ooitjie sien ons minder gereeld. Soms bring hy haar saam. Ander kere kom maak sy alleen ‘n draai. Ons weet sy slaap in ‘n boskasie van jong tamboties langs die motorpad. Tokkie wat in sulke sake na die sentimentele oorhel, krap gereeld in die hopies vars duikermis in die omgewing van die slaapplek en kondig aan die swart korreltjies is "te pragtig"!

Ons weet van minstens twee babas wat vir die paartjie gebore is. Van die eerste het ons op ‘n Sondagoggend bewus geword toe Tokkie met ligdag kombuis toe is om koffie te maak. Deur die kombuisvenster sien sy ‘n ooitjie met ‘n lammertjie aangestap kom. Die lammertjie was duidelik slegs ‘n paar uur oud. Die beentjies wou nog nie lekker saamwerk nie. Sy roep my en saam hou ons die twee dop. Die ma stap so drie tree vooruit, gaan staan dan stil en kyk om. Volgens haar nek se beweging lei ons af dat sy 'n geluid maak. Dan stap sy terug tot by die kleintjie voordat sy omdraai om weer verder te stap. Die kleintjie stap/spring dan moedig deur die lang gras agter die ma aan om na 'n paar tree maar net weer te rus. Die ma bly met eindelose geduld omkyk-omkyk en stap stadig aan totdat hulle agter ‘n boom verdwyn. Waarskynlik was sy op pad om die kleintjie volgens die duiker-kultuur iewers te gaan wegsteek.

Die deerniswekkende toneeltjie laat my onthou hoe ‘n manhaftige duikertjie my die vorige middag laat glimlag het. Die mossie maar man het 'n blouwildebees omtrent die skrik op die lyf gejaag. Die veel groter ou het snorkend agteroor gesteier. Ek kon nie glo toe ek sien hoe vol respekte hy vinnig die aftog blaas nie. Dit was nie moeilik om twee by twee te tel nie. Daardie blouwildebees het klaarblyklik by die “kraamkamer” oortree!

Met die tweede bevalling was Johan en Mariza in Sabiepark. So ‘n week voor Kersfees vertrek hulle vroeg die oggend om te gaan gholf speel. Op die motorpad sien hulle ‘n lang dik sleepspoor. Hulle bespiegel dat dit ‘n luislang kon wees. Hulle was nie verkeerd nie. By Handa Zeller hoor hulle later die luislang was besig om ‘n duikertjie in te sluk. Toe val ‘n luiperd hom aan. Die luislang was in ‘n krisis. Al wat hy kon doen, was om sy prooi uit te spoeg ten einde te ontsnap of terug te veg. Maar dit was te laat. In ‘n japtrap was hy ‘n luiperdmaal. Die duikerkarkas het onaangeraak eenkant bly lê.

Luiperds is opportuniste, het Handa vertel. Toe daardie ene afkom op die luislang wat lê en vreet en nie kan beweeg nie, was dit net ‘n te uitstekende geleentheid om te laat glip. Johan en Mariza het dadelik die dooie duikertjie gaan soek. Hulle kry die kadawertjie toe op die toneel van die aanval net langs ons motorpad en neem ‘n foto -- ook een van die luislang se sleep.

Vervolg ...