Suiker vir 'n duiker
Die Strydoms is huis toe op Outeniekwastrand in die Suid-Kaap. Toe hulle 'n jaar later in Sabiepark kom, stap 'n volgroeide ooitjie uit die bos nader. Glad nie wild nie. Annatjie twyfel g’n oomblik nie. In haar hart is sy seker dit is die outjie wat sy en Dawie gered het. Voorheen het sy nooit vir diere kos gegee nie Nou is sy egter so opgewonde dat sy dadelik 'n bietjie pap uitgooi. Sy roep: “Bok-bok”. Die ooitjie kom dadelik nader.
Twee jaar hou dit so aan. Sodra die Strydoms by Rustig uitgepak het, hier kom Bok-Bok. Sy gaan lê onder 'n jakkalsbessie en hou hulle dop. As hulle roep “Bok-Bok,” wikkel die oortjies en kom sy vinnig nader. Veral as aartappelskille op die spyskaart is. Sy kom ook vir koolblare of ander kos. Die derde jaar kom Bob-Bok nie. Hulle sou haar dadelik herken het, want sy was uniek, sê Annatjie. Sy was 'n groot ooitjie, niks skrikkerig of sku soos die nuwe klomp nie. Boonop het sy op hul roepe reageer. Soos dit maar in die natuur gaan, was sy egter spoorloos. Dalk het 'n luiperd haar gevang. Of ‘n luislang...
Dawie en Annatjie se trane het weer gerol. Later bel 'n niggie wat 'n keer ‘n foto geneem het van Dawie en Annatjie wat vir Bok-Bok kos gee. “Is Bok-Bok nog daar?” "Nee, sy is nie," kom die antwoord. Dawie en Annatjie kon ook die niggie se snikke aan die anderkant hoor.
Bok-Bok se aanvaller is nie die enigste luislang wat oor ‘n duiker sy moses in Sabiepark teëgekom het nie. ‘n Veel groter en gedugter uitgawe het vir sy gesondheid ook te naby aan ‘n duikerooitjie gekom. Nog dragtig boonop. Die eienaar wat daardie duikertjie as sy eie aangeneem het, het nie ‘n oomblik geaarsel nie. Hy storm met ‘n sambok op die bedreiging af en moker die monsterslang links en regs. Dié koes en sis van woede. Die houe bly egter reën totdat die slang die aftog blaas. Die ridder met die sambok se naam word liewer maar dig gehou.
Tarlehoet se “eie duikertjie” is ‘n rammetjie. Hy heet Witnek. Witnek kom al vyf jaar lank gereeld. Dit bevestig ou foto’s wat duidelik die wit V op sy nek wys. Soos Bok-Bok is Witnek hondmak. Hy tree nie eens meer terug as Tokkie vir hom pitjies bring nie. Lyk selfs effens ongeduldig. Hy trippel rond as die gemesselde voëlbadjie leeg is asof hy wil sê: “Toe roer julle.” Dit is sy drinkplek. Die water daarin word gereeld vervang en is ten minste skoner as in die drinkgat.
Party oggende kom soek hy sy pitjies voor opstaantyd. Tokkie staan maar pligsgetrou op. Sommer so in haar slaapkabaai gaan haal sy die pitjies in die pakkamer om die mannetjie se "bestelling" uit te voer. Een aand kon ek geruime tyd nie naby my vuurtjie kom nie, omdat ek nie “ons duikertjie” wou steur nie. Dié het rustig langs die lapa gewei. Toe hy uiteindelik padgee, was ‘n reddingsaksie nodig om die sterwende vuur weer op dreef te kry.
Een vakansie verdwyn Witnek drie weke lank in die niet. Sy pitjies wag, maar hy daag nie op nie. Uiteindelik moet ons teësinnig aanvaar: Witnek is nie meer met ons nie. Tokkie se hartseer is intens. Vir haar is die verlies soos dié van ‘n geliefde troeteldier. Witnek was vir haar nie sommer ‘n dier van die veld nie. Sy kon hom “in die oë kyk en met hom kommunikeer”. Sy beskuldig die hiëna wat kort-kort kom snuffel. Van hom (haar?) wil sy niks weet nie. Selfs die onskuldige nagapies ontsnap nie haar gramskap nie. Die piesang-ritueel vertoon ‘n ongekende lusteloosheid.
Vervolg ...


