Nawoord

IN LIEFDE OPGEDRA AAN AL

DIE INWONERS VAN

SABIEPARK, KLEIN EN GROOT,

DES TE MEER AAN DIÉ WAT,

WETEND OF ONWETEND,

IEWERS IN BUURMAN SE BLAAIE

‘N BUIGING MAAK.

"As U die donker bring

en dit nag word,

roer al die diere in die bos.

Die leeus brul op soek na prooi:

hulle vra hulle kos van God."

-- Psalm 104: 20 en 21

“What is man without the beasts?

If all the beasts were gone, man

would die from a great loneliness of

spirit, for whatever happens to the

beasts also happens to man.”

-- Uittreksel uit 'n brief van

'n Indiaanse hoofman

aan die Amerikaanse president

in 1855.

KANTAANTEKENINGE

Mense: Om suspisie van argeloosheid te vermy, moet gemeld word dat in die geledere van Tarlehoet se mense inderdaad ‘n Marisa en ‘n Mariza voorkom. Die een met die s word uitgespreek Mariesa, die een met die z as Marissa. Marisa (Mariesa) is my en Tokkie se enigste dogter. Sy is getroud met Brent Claassens. Mariza (Marissa) is getroud met ons enigste seun, Johan. Tokkie se ma, Marietjie van Wyk (90), wat by ons woon, is bekend as Ouma. Griet Williams was lank ‘n staatmaker-huishulp in die Van Deventerhuis op Melkbos. Sy het in vele Sabiepark-avonture gedeel voordat sy terug is na haar tuisdorp, De Aar.

Wetenskap: Die natuur word in Buurman van die Wildtuin deur die oë van ‘n intense liefhebber, maar ‘n leek, waargeneem. Hoewel die strewe deurgaans was om die wetenskap te respekteer, word geen aanspraak op honderd persent wetenskaplike juistheid gedoen nie.

Bronne: Sabiepark se kwartaallikse nuusbrief is ‘n ryk bron van bosstories en -anekdotes. Eie belewenisse, persoonlike insigte en vertellings van ander Sabieparkers word dankbaar met inligting uit die nuusbrief aangevul. Twee spesiale dankies is verskuldig. Vir eers aan Sabiepark, by name Handa Zeller, vir foto’s uit die Sabiepark-versameling. Ten tweede aan die Sabiepark-pionier Ian Crabtree vir foto’s en mededelings, asook die tydskrif SA Jagter, by name Melinda Craythorne, vir haar hulp met die elektroniese ontsluiting daarvan.