Wild, weird and wonderful...
Die lewe in die bos ... ‘n Bielie van ‘n baard, verskeie variasies op die tema kakie-bosmondering en kieries met karakter. Dit is drie simbole van die bos wat dadelik toegang verleen tot die spesiale broederskap van bosmense -- ‘n sonderlinge spesie met die bos in hul bloed.
Slang in die gras (dak) ... Ten minste een ding sonder enige twyfel: hul vermoë om ‘n mens te verras, te ontstel, te skok of te irriteer, is meesal omgekeerd eweredig aan hul grootte. Anders gestel: wees maar op jou hoede vir allerlei klein goedjies wat in die bos rond kruip, kriewel, klouter of seil. Of hulle nou byt, steek, pik, knibbel of knaag, hulle kan jou laat bontstaan. Sommige, soos paddas, teister jou op ‘n subtieler manier. Hulle dreun jou ore van jou kop af met hul luidrugtige padda-indabas. Vir die drie vreeslike s’e, slang, skerpioen en spinnekop, het ek ‘n ingebore skuheid.
Hart van 'n boer ... Vir die naam boer kwalifiseer ‘n Sabiepark-eienaar net so min. ‘n Groot gros, dalk die meeste, se hande is sag, nie hard en skurf soos dié van ‘n boer nie. Maar diep binne-in? Dit is boereharte wat ‘n mens daar hoor klop. Soos ‘n boer leer ken elkeen ook die volle register van emosies wat die weer kan ontketen. Die wisselvalligheid leer nederigheid en afhanklikheid.
Vuurplesier ... Elke mens moet in sy lewe minstens een vuur maak wat onvergeetlik is; een monumentale brandstapel wat telkens voor die geestesoog opdoem wanneer met verskuldigde eerbied oor Groot Vure gepraat word. My eie vuur der vure was eintlik ’n spanpoging.


