Bringers of joy...

Kameraad Langeraat ... Terwyl ons die Sondagmiddag by Loeriebos op die herverskyning van die halsstarrige leeus wag, stap twee volwasse kameelperde stadig, doelgerig na die toneel van die vangs. Is dit dalk die pa en ma van die jong langnek-slagoffertjie in 'n finale vaarwel?

Swart op wit ... Sabiepark se embleem is ‘n sebrakop. Die kop pryk lewensgroot by die grasdak-hoofingang. Dit verskyn ook in swart op wit op elke stuk korrespondensie (en rekening!) uit daardie oord. Die park se sebras dink blykbaar die embleem verleen aan hulle ‘n spesiale status.

Tannemanne ... Ontmoet Pumba en Timone. Of Mo en Flo. Of sommer die Terrible Twins. Hierdie twee saamloper-vlakvarke was op hul dag groot gunstelinge in Sabiepark. Een en almal het name vir die tweestuks gehad, en was baie ingenome as hulle op hul kenmerkende drafstappie opdaag om op hul roetine-huisrondes ‘n bietjie verwen te word.

Reenboognasie ... Voëlkyk is nie vir sissies nie. Dit verg konsentrasie en vinnige koördinasie om die verkyker te gryp, die onderwerp van kop tot toon te bestudeer en deur ‘n proses van eliminasie blitsig by ‘n diagnostiese bevinding uit te kom. Om dan nog die duisternis name ook te probeer memoriseer -- party onlogies, ander die vrug van ‘n ryke verbeelding -- is ‘n reusetaak. Tussen al die bontrokke, bokmakieries, janfrederiks, katakoeroes, klopkloppies, lewerikke, lysters, sterretjies, valke en vinke raak ‘n gewone sterfling maklik verdwaald.

Soos 'n wildsbok ...  Telkens as ‘n koedoebul op Tarlehoet se werf kom, is ek opnuut van harte dankbaar dat ek net met my kamera jag. Om ‘n koeël te jaag deur daardie edele kop met die kartelhorings wat so statig op die vorstelike nek sit, sou ek nooit oor my hart kry nie. Maar hierdie adellikste van die wildsbokke wat in Sabiepark te vinde is, verdien ook om historiese redes ‘n ereplek in die Van Deventer-annale.

Bosmafia ... Hul astrantheid en wetteloosheid stempel bobbejane as die mafia van die diereryk. In Sabiepark is ‘n vertakking met ‘n aggressiewe, mank mannetjie as godfather. Dié belhamel en sy 60, 70 plunderaars -- ‘n cosa nostra bos-tra soos min -- voer ‘n soort skrikbewind in ons andersins vreedsame, misdaadvrye park. Troppe sekelstert-stropers breek in agter kos aan en bemors huise.