Strange encounters of a wild kind.
Vat vyf! ... Numero uno van die Vyf Grotes bly vir die meeste mense ‘n leeu.Te meer so in 'n plek soos Sabiepark wat nie Vyf-Grotes-kontrei is (of behoort te wees!) nie. Die “koning van die diereryk” hoort allermins hierdie kant van die rivier. Vanselfsprekend.
Het jou!
... Luiperds is lief vir Sabiepark. Die volop
wild is ideaal vir jag. Om hierdie keer gerat te wees vir ‘n foto,
was ‘n missie.
Dit het vir ons ‘n projek van die hart geword. Een met ‘n naam:
Operasie L.
O..O..Oli fante! ... Vir die Wildtuin se olifante is nie net die gras oorkant die spreekwoordelike draad altyd groener nie. Ook die gras anderkant die rivier. Sabiepark se wandelpad trek grootvoete soos ‘n magneet. Hier verras hulle wandelaars gereeld, hul massiewe lywe donker-nat soos hulle deur die Sabierivier gewaad het.
Brul by die braai ... Loeriebos se watergat is 'n ronde sementdammetjie niks verder as tien meter van Dup se braaiplek nie.Die aand sit hy in die donker by sy braaiplek. Hy bepeins die dag se gebeurde en wag vir Minnie wat nog in die kombuis doenig is. Daarna wil hy 'n vuurtjie aansteek. Terwyl hy wag, hoor hy 'n harde geslurp. Daar's die vyf toe vlakby hom. Hulle drink gulsig by sy watergat. "Jy het net oë gesien," vertel hy baie ingenome, "grotes en kleintjies -- te pragtig."
Sonaanbidders ... Soos sonaanbidders op ‘n luilekker somervakansie lê hulle by die water. Eenkant die bonkige seekoeie soos tampans aan ‘n hoender met hul donker, plomp lywe op potsierlike stomp beentjies. ‘n Entjie verder die plat krokodille in eweredige skuins rye met hul lang, skerp snoete en growwe skubbe, soos brandhout met ‘n ruwe bas.
Spore in die sand ... Vars kussingspore omsirkel elke oggend jou huis. Spore lê ook kruis en dwars in die gruisstrate waarlangs jy vir ‘n eerste beker môrekoffie of stiltetyd in die natuur piekniekplek toe stap.Selfs die “kenners” kan ook maar die spoor byster raak wanneer hulle onderling oor dié onderwerp begin redekawel.


