Brul by die Braai
Die laaste dag van ons wintervakansie van 1999 was ons in die Krugerwildtuin. Toe kom die Wildtuin daardie dag na Sabiepark! "Welkom in die Krugerwildtuin," groet David Zeller my en Tokkie opgewek toe ons ons op pad huis toe in ‘n plaat motors vasry.
Die toneel in Wildevylaan, ‘n klein entjie van die tweespoorpaadjie na ons huis, herinner inderdaad aan ‘n leeu-vangs by Skukuza, Satara of Onder-Sabie. Dis net motors, motors. Mense hang by vensters uit met kameras en verkykers. Sommige soek hoogte en ‘n beter hoek op hul voertuie se dakke. In Sabiepark wek leeubesoeke altyd opspraak. Hoe dan anders? Die opwindende nuus het, nes altyd, soos ‘n veldbrand onder parkbewoners versprei: ‘n trop leeus is in ons midde. ‘n Maanhaar, twee wyfies van wie een ‘n opgeskote tiener is, en twee welpies het van die Wildtuin ingesypel. Binne die eerste paar uur het hulle ‘n jong kameelperd platgetrek.
Die leeukykers wat eerste opgedaag het, verseg natuurlik om te roer. Gefrustreerde laatkommers rek hul nekke en stuur hul voertuie ongeduldig vorentoe en agtertoe om in die opwinding te probeer deel. Dat Wildevy maar ‘n smal, kronkelrige grondpaadjie is – dit is eers vyf jaar later, in 2004, verbreed -- kompliseer sake aansienlik. Kennisgewings wat vinnig voorberei is, word boonop by die hek vir alle inkomende motorryers in die hand gestop: “Pas op, moenie gaan stap nie, daar's leeus in die park.” Dit lok net meer nuuskieriges.
Anders as die malende menigte in die straat hoef Dup en Minnie du Plessis van Loeriebos (erf 268 in Wildevylaan), skuins oorkant Tarlehoet, nie ‘n vinger te verroer om die leeus dop te hou nie. Hulle beleef die hele vertoning as ‘t ware uit die voorste ry. Dup in die “leeukuil” -- dit sou die titel kon wees. Toe die motors teen 15:00 begin opdam, staan Dup eers "half in onkunde" nader om vas te stel wat die mense dan so trek. Hy stap kaalhand amper reg in die leeu se bek in sonder om dit te besef. Kort daarna sien hy en Minnie van hul voorstoep af net sterte en pote -- gevaarlik naby. Nog 'n bietjie later sien Minnie 'n leeuin en twee welpies. Die kleintjies kerm soos ‘n kat oor ‘n derm. Die wyfie mik ergerlik na Dup se kant toe. Hy retireer vinnig.
Die aand sit hy in die donker by sy braaiplek. Hy bepeins die dag se gebeurde en wag vir Minnie wat nog in die kombuis doenig is. Daarna wil hy 'n vuurtjie aansteek. Terwyl hy wag, hoor hy 'n harde geslurp. Daar's die vyf toe vlakby hom. Hulle drink gulsig by sy watergat. "Jy het net oë gesien," vertel hy baie ingenome, "grotes en kleintjies -- te pragtig."
Loeriebos se watergat is 'n ronde sementdammetjie niks verder as tien meter van Dup se braaiplek nie. Dit het 'n hoërige rand. Dié kon die kleintjies net-net met hul voorpote bykom. Die water self was egter buite hul bereik. Hoe meer hulle sukkel om by te kom, des te meer klink die jammerlike gekerm uit die jong leeukele op. Hy het nie besef leeus is so dorstig nie, sê Dup. Minstens tien minute op 'n slag laat sak hulle hul koppe en slurp sonder ophou. Dan pak hulle weer entoesiasties die karkas. Dan is dit weer drinktyd. Die Du Plessis's het teen 23:00 gaan slaap met die geknars van bene wat breek en 'n tevrede gegrom in hul ore.
Sondagoggend klop Zeller en Albert Sibuyi, hoof van sekuriteit, aan my deur. “Kom ons gaan soek die leeus se spore.” Ek was daardie tyd mos darem redakteur van die Sabiepark-nuusbrief, en só ‘n massiewe inval deur koning leeu en sy gevolg is vir die nuusbrief ‘n groot storie! Zeller en Sibuyi loop voetjie vir voetjie voor met hul skietgoed, ek agterna met elke sintuig soos ‘n boog gespan. My “skietding”, my Canon-kamera, is oorgehaal in my regterhand. Die leeus is egter skoonveld. Al foto’s wat ek kry, is van die twee leeujagters – hoofsaaklik hul rûe -- van Zeller met ‘n gevrete kameelperdpoot in die hand, en van gretige aasvoëls wat steeds in groter getalle op die beendere toesak.
Later gaan ek by Loeriebos aanklop om Dup se storie eerstehands te hoor. In daardie stadium was van die kameelperdjie bloedmin oor. Die bome rondom was swart van gulsige, honger aasvoëls. Terwyl ek saam met my buurman op die toneel rondstaan, hardloop die twee wyfies kort op mekaar se hakke by ons verby rivier toe. Ons sien hulle gelyk. “Daar’s hulle!” weerklink dit opgewonde uit albei monde. Dup, ewe dapper, gaan sny later met sy knipmes 'n stukkie vel af van die nek van die prooi om vir sy kinders te wys. Ek bly liewer beskeie op ‘n veilige afstand. Later die middag bel Dup op die selfoon: "Kom gou." Ek en Tokkie spring in die motor, maar onverwagte gaste met snuf in die neus draai op die kritieke oomblik by Loeriebos se motorpad in. Die ontydige intervensie verjaag die leeus oomblikke voordat ons opdaag.
Ons drink koffie en wag, maar hulle kom nie weer nie. Die prooi is in elk geval al dieper die bos ingesleep. Daarmee klaar, onderneem die versadigde vreemdelinge 'n luilekker wandeling deur die park. In 'n stadium word twee of drie op die gras voor die kantoor opgemerk, naby die plek waar ‘n vorige groepie lekkerbekke in die jare tagtig hul rieme styfgeloop het. ‘n Gelukkige Sabieparker, Rob Munton (erf 99 uit Maroelalaan), ry al agter hulle aan. In die bestek van ‘n uur sien hy hulle minstens ses keer uit sy motor.
Maandagoggend is dit rytyd vir die Van Deventers. Melkbos lê vêr, lê vêr, soos Uys Krige se Fort Wajier. Ek gaan groet. Dup wys my toe die vars spore in sy motorpad. Die leeus het in die nag teruggekom, maar toe weer in die bos verdwyn. Permanent weg? Nee, nie so maklik nie.
Vervolg ...


